Dié week lees ek ’n paar besonder arrogante meningstukke wat geskryf is deur mense wat tog so grênd wil klink omdat daar ’n akademiese titel agter hul naam staan.
Die soort gesprek met inhoud wat vanuit die hoogte ’n prekie wil afsteek, so asof ’n mens nie vir jouself kan dink nie.
Bertrand Russell het tereg opgemerk dat daar een groot probleem met die wêreld vandag is: Die dwase en fanatici is altyd so seker van hulleself, terwyl wyse mense so vol twyfel is.
Dit is die reine waarheid.
Ek luister in ’n restaurant na twee ouerige vriende wat oor ’n spesifieke onderwerp debatteer.
Die een gee later moed op met die finaliteit dat sy vriend wat ’n professor is reg moet wees, want hy het die ondervinding en kwalifikasie.
Kyk ’n mens deesdae na sekere meningstukke uit byvoorbeeld Amerikaanse universiteite wat as die nuwe waarheid voorgehou word, is dit vir my duidelik dat ’n titel agter jou naam, of selfs jare se ondervinding, nie wysheid waarborg nie.
Wat is ’n intellektueel dan? In die woorde van Wilhelm Jordaan, waar hy N.P. van Wyk Louw aanhaal: “Intellektuele is nie noodwendig geleerde mense nie, maar mense wat bereid is om redelik te dink oor moeilike, belangrike lewenskwessies; mense wat billik oordeel oor ander; aarselend veroordeel; en bietjie meer selfkritiek op jou eie mening toepas!”
Dié beskrywing is treffend, en so waar.
Die jammerte is dat ’n groot gros van mense die waarheid heeltemal miskyk deur selfgesentreerd te flankeer met die eie denke, menings of uitsprake as enigste maatstaf van die waarheid – en dit dan op ander te wil projekteer om beter oor hulleself te voel.
Laat geld jou mening, op die regte manier.