Oud-Bethlehemiet en musikant Alouise Peens het onlangs in haar tuisdorp gekuier, waar sy die gehoor aan haar voete gehad het met haar vertoning Alouise – Dis ek.
Die teks is deur Alouise en Riandi Barnard geskryf, en Pieter Venter van Pretoria was die regisseur.
“Met die vertoning wil ek graag bewustheid oor geestesgesondheid skep, en ek wil mense aanmoedig om openlik en eerlik te wees oor geestesgesondheid,” sê Alouise.
Saam met haar op die verhoog is haar hondjie Logic, ’n sesjarige yorkshire terriër.
“Dit was Logic se derde verskyning op die verhoog. Hy vorm ’n groot deel van die vertoning en het reeds sy eie sprankelende verhoogpersoonlikheid.“
Logic het sy debuut in die gewilde Blou Hond-teater in Pretoria gemaak, waar hy die gehoor se hart met sy talente gesteel het.
Alouise is die baskitaarspeler vir Bok van Blerk en is gereeld saam met verskeie ander kunstenaars op die verhoog.
Sy woon al die afgelope tien jaar in Pretoria.
Alouise, wat haar skoolloopbaan aan die Hoërskool Witteberg voltooi het, kom uit ’n baie musikale huis. Haar ma is Jeanette Jacobs, bekende musiekonderwyser van Bethlehem.