AfriForum se Viljoenskroon-tak het in September 30 slaggate in die dorp met 45 sakke teer opgevul.
Inwoners van Viljoenskroon sal verlig wees om te weet dat slaggate op die kruisings van Goldberg-, Mare- en Viljoenstraat ook gevul is.
Volgens Alta Pretorius, AfriForum se streekskoördineerder vir die Mooirivier, beklemtoon die projek dat gemeenskappe wat saamwerk ’n reuse-verskil kan maak. ’n Voorbeeld van dié soort samewerking is Willie en Lynne Griessel van Viljoenskroon wat hul werknemers beskikbaar stel om te help.
Projekte van AfriForum word moontlik gemaak deur ledegeld in te span, asook plaaslike inwoners en sakeondernemings se geldelike bydraes.
“Dit is verblydend om te sien hoe doeltreffend ledegeld aangewend word om terug te ploeg in hierdie Vrystaatse gemeenskap,” sê Pretorius.