‘Saamstaan bied uitweg’

“Die Here wil iets nuuts doen vir Suid-Afrika. ’n Wonderwerk gaan hom hier afspeel as ons saamstaan as gelowiges.”.


“Die Here wil iets nuuts doen vir Suid-Afrika. ’n Wonderwerk gaan hom hier afspeel as ons saamstaan as gelowiges.”

Dit is hoe dr. Arno van Niekerk van Time2RiseSA sy vaste oortuiging uitspreek.

“Dit is ons plig as medegelowiges om op te staan en om goddelike beginsels hier in ons land te herstel en te vestig.”

Van Niekerk het gepraat op ’n ontbytgeleentheid by die Kroonstad-gholfklub, toe afgevaardigdes van Time2RiseSA belangstellendes Saterdag (05/08) toegespreek het.

Hy het gesê hoewel Suid-Afrika in ’n krisis gedompel is en so baie uitdagings moet trotseer, hy glo die land radikaal kan verander as gelowiges saamstaan.

Time2RiseSA is gestig deur belydende Christene van alle kulture en denominasies, om saam te bid vir die land se vele uitdagings.

Dit is hul hoop dat mense van oor Suid-Afrika heen saam met hulle sal opstaan om verandering mee te bring.

Dit is vir Time2RiseSA belangrik dat alle gelowiges Christus se Woord tot optrede sal laat oorgaan en, as die Here se instrumente, hul hande sal inspan om dit te bewerkstellig.

Time2RiseSA verkondig dat daar vyf belangrike stappe in die proses van verandering is. Dit behels:

  • om die liggaam van Christus te verenig;
  • om nuwe leiers te identifiseer en op te hef;
  • om op te tree en ’n netwerk van gelowiges in Suid-Afrika te mobiliseer;
  • om ’n nuwe gesprek, ’n taal van hoop, aan te moedig; en
  • om ’n platform te skep waar gelowiges met mekaar kan skakel en projekte kan deel om hoop in hul gemeenskappe te skep.

“Ongeag jou ras, kleur, die taal wat jy praat of die Christelike denominasie waaraan jy behoort – as jy ’n passie vir God het en ook bekommerd is oor waarheen Suid-Afrika op pad is, is jy welkom om jou by Time2RiseSA aan te sluit. Ons bid saam en pas Bybelse waardes en riglyne toe om die broodnodige verandering moontlik te maak,” sê past. George Swarts van Bloemfontein.

Swarts beskryf Time2RiseSA nie as ’n organisasie nie, maar eerder ’n lewende organisme wat help om nuwe lewe te skep.

Vir Time2RiseSA om in sy doel te slaag, is dit belangrik dat geestelike en praktiese verandering by mekaar uitgebring word. Daarom moedig die organisasie belangstellendes met uiteenlopende vaardighede en talente aan om hulle aan te sluit.

“Ons kan óf toeskouers wees, óf ons kan ingryp soos Jesaja 59:14-16 ons beveel. Daarom weet ons dit is tyd vir Time2RiseSA.”

Besoek Time2RiseSA se sosialemedia-profiele en webtuiste vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.