Met die skenking van ’n nuwe gasstoof op 28 September aan Engo se Skemervreugde-sentrum vir bejaardes in Paul Roux is van links Justice en Anita Scott (stigters van ChangeNetSA) en Drice Rossouw (bestuurder van Skemervreugde), wat die stoof in ontvangs geneem het.Foto: Verskaf


Die ChangeNetSA-organisasie in Bethlehem het ’n rolbaldag ten bate van sy outisme-afdeling aangebied, en het dae later ook ’n nuwe gasstoof aan Engo se Skemervreugde-sentrum vir bejaardes in Paul Roux oorhandig.

Op 25 September het 70 spelers wat in spanne van vier opgedeel is, dié geleentheid ondersteun.

“Die doel van die rolbaldag was om geld in te samel vir die outisme-afdeling van die ChangeNetSA-organisasie se New Beginnings-sentrum, en ons is baie dankbaar vir die gemeenskap se ondersteuning in dié verband,” sê Justice Scott, stigter van ChangeNetSA.

Die organisasie beywer hom daarvoor om hoofsaaklik hawelose mense, asook mense wat in nood verkeer, van verblyf en kos te voorsien.

Die dag se bedrywighede het in ligte luim afgespeel, en deelnemers is op eet- en drinkgoed trakteer.

Die algehele wenspan van die rolbaldag is Johan Heyns, Rosa Odendaal, Ashleigh Venter en Claudia Kok.

Die prysuitdeling is deur Suzette Heyns behartig.

Die skenking van die gasstoof is op 28 September gedoen.

“Ons is opreg dankbaar vir die skenking,” sê Drice Rossouw, bestuurder van die Skemervreugde-sentrum vir bejaardes.

“Benewens dat ons die gasstoof vir die etes van die tehuis sal gebruik, sal dit handig te pas kom met ons projek waardeur ons maaltye aan die gemeenskap verkoop vir ’n ekstra inkomste vir die tehuis.”

You need to be Logged In to leave a comment.