Die saak teen die Dihlabeng-munisipaliteit in Bethlehem rakende die Môrelig-stortingsterrein is Maandag (24/01) in die Bethlehem-streekhof na 24 Februarie uitgestel.
Isoldé Laesecke, gemeenskapsaktivis en onafhanklike raadslid van Dihlabeng, het in November 2020 amptelik ’n saak rakende die Môrelig-terrein laat open en ’n kriminele klag is teen die munisipale bestuurder by die polisie ingedien.
Uit die klagstaat is dit duidelik dat verskeie landswette betreffende stortingsterreine oortree word, en dit is onder die Groen Skerpioene se aandag gebring.
Maandag is die saak egter uitgestel omdat die oorspronklike saak nie teen Busa Molatseli, geskorste munisipale bestuurder wat weer terug op sy pos is, ingedien is nie. ’n Amptelike saak is nou teen Molatseli ingedien.
“Inwoners wat naby die Môrelig-stortingsterrein woon, vind dié haglike omstandighede ondraaglik, om nie eens te praat van die gesondheidsrisiko wat dit vir mens en dier inhou nie,” sê Laesecke.
Sy oefen sedert 2018 druk op die munisipaliteit uit oor die haglike toestande van die stortingsterreine in Bethlehem.
Vullis word aan die buitewyke van die dorp gestort, en die amptelike stortingsterrein langs die Reitzpad is ook nie op peil wat wetgewing en regulasies betref nie.
Laesecke het Maandag bevestig dat die situasie by die Reitzpad-stortingsterrein onder James Tseki, burgemeester, se aandag gebring is. Terugvoering word in die daaropvolgende sewe dae verwag.
VrystaatKroon het ’n amptelike navraag aan Dihlabeng gerig, maar teen druktyd is geen antwoord nog ontvang nie.
Die Groen Skerpioene is Laesecke se regsverteenwoordiging.