SA verstrik in ekonomiese beklemming

Verlede week het die Reserwebank die mees ingrypende rentekoersverhoging in die afgelope 20 jaar aangekondig.


Verlede week het die Reserwebank die mees ingrypende rentekoersverhoging in die afgelope 20 jaar aangekondig.

Dit het die meeste Suid-Afrikaners se keel laat toetrek, veral aangesien baie reeds enorme finansiële druk beleef.

Die verhoging beteken dat huis- en motorpaaiemente verhoog, so ook alle skuldterugbetalings – wat lenings en kredietkaarte insluit. Hou in gedagte dat baie mense van maand tot maand van kredietkaartskuld of lenings oorleef.

Sedert die aanvang van die Covid-19-pandemie is talle Suid-Afrikaners finansieel in die knyp. Mense sukkel om kop bo water te hou en verdien in sommige gevalle minder geld as voor die pandemie.

Een bron van inkomste is nie meer genoeg nie en die meeste mense is genoodsaak om ekstra werk te doen om die finansiële las te probeer verlig.

Suid-Afrikaners verarm, en dit is bykans onmoontlik om die gordel nog stywer te trek as wat dit reeds getrek is.

Dan praat ons nie eens van beurtkrag wat die ekonomie verlam en die voortdurende styging in die petrolprys nie.

Weens al dié faktore sien ons al hoe meer mense wat aan uitbranding en post-traumatiese stres ly.

Dit raak vir elkeen van ons moeiliker om die balle in die lug te hou.

Sodra jy dink daar is ’n tikkie balans, kom klap die volgende ekonomiese skok jou tussen die blaaie.

You need to be Logged In to leave a comment.