Ruiters en perde skitter met uithou, oefen en saamspan

Ruiters van die Bethlehem-uithouritklub is deur die Uithouritvereniging van Suid-Afrika (Erasa) vereer vir hul prestasies met deelname in die 2023-’24-uithouritseisoen.


Monique de Jager is as die kinderruiter van die jaar aangewys. Foto: Verskaf

Ruiters van die Bethlehem-uithouritklub het uitstekend gevaar in die 2024-uithouritseisoen. 

Marjulyn Myburgh is as die nasionale ruiter van die jaar aangewys en is gekies om die nasionale span in die standaardgewig-afdeling te verteenwoordig op die internasionale kampioenskapsbyeenkoms wat einde Augustus in Swakopmund in Namibië sal plaasvind. Marjulyn was lid van die Vrystaat-span wat aan die South African International Challenge (SAIC) en die nasionale uithouritkampioenskapsbyeenkoms deelgeneem het wat in Fauresmith plaasgvind het.

Sy is ook aangewys as die ruiter wat die meeste kilometers in die afgelope seisoen (2011,5 km) afgelê het.  

“Die SAIC is in die verlede geroteer tussen die nege provinsies in Suid-Afrika, maar ons as raad het na afloop van 2023 se rit besluit om dit in Fauresmith aan te bied,” sê Eduard Marais, president van die Vrystaat-uithourit-unie en lid van die Bethlehem-uithouritklub.

Anné Nel is as die junior ruiter van die jaar aangewys. Sy was ‘n lid van die Vrystaat-span wat aan die SAIC 2024 en die Fauresmith-uithourit deelgeneem het. Monique de Jager het die eerbewys vir kinderruiter van die jaar ontvang en Makayla de Jager se perd El-Chitan Khamilaha die eerbewys vir die perd wat die meeste kilometers (1049,6 km) afgelê het.

Anné Nel is as junior ruiter van die jaar aangewys. Foto: Verskaf
uithourit

Marjulyn Myburgh is tydens die Uithouritvereniging van Suid-Afrika (ERASA) se toekennings as senior ruiter van die jaar en ruiter wat die meeste kilometers (2011.5 km) voltooi het, vereer. Foto: Verskaf
uithourit

Makayla de Jager se perd El-Chitan Khamilaha het die eerbewys vir perd wat die meeste kilometers (1049.6 km) afgelê het ontvang. Foto: Verskaf
uithourit

Marjulyn Myburgh is deur die Uithouritvereniging van Suid-Afrika (Erasa) vereer as senior ruiter van die jaar en ruiter wat die meester-afstand voltooi het.Foto: Verskaf
uithourit

Marjulyn Myburgh, is tydens die Uithouritvereniging van Suid-Afrika (ERASA) toekennings vereer as senior ruiter van die jaar en ruiter wat die meester kilometers (2011.5 km) voltooi het. Foto: Verskaf

Die volgende lede van die Bethlehem-klub was ook deel van die Vrystaat-span wat aan die SAIC en Fauresmith-uithourit deelgeneem het: Nicolene Arrangies (junior span vir SAIC 2024),  Juan Joubert (junior span vir SAIC 2024), Cornel Rautenbach (swaargewigspan vir die Fauresmith-uithourit; hy was ook kaptein van die span), Dickey Gorman (swaargewigspan vir die Fauresmith-uithourit), Barrie Badenhorst (swaargewigspan vir die Fauresmith-uithourit) en AJ Myburgh (swaargewigspan vir die Fauresmith-uithourit).

Lede wat aan die Fauresmith- nasionale uithourit-kampioenskap deelgeneem en die rit suksesvol voltooi het, is: Hennie Engelbrecht (liggewig), Nelmarie Bonthuys (junior), Marné van Zyl (junior), Willie Nel (kinderruiter), Reynard Van Rooyen (kinderruiter) en Makayla de Jager (kinderruiter). Al die ruiters wat in spanverband aan die uithourit-kampioenskap deelgeneem het, het hul Vrystaat-kleure in die sportsoort ontvang.

Die SAIC 2024 het van 2 tot 4 Mei plaasgevind en die Fauresmith- Nasionale kampioenskapsbyeenkoms van 25 tot 27 Junie.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.