’n Jong perderuiter van Bethlehem het uitstekend gevaar in die kwalifiseringsronde van die western berede spele- (WMG) toernooi wat in Bethlehem beslis is.
Oor die naweek van 15 Junie het Mignon Thomas, ’n leerling aan die Hoërskool Witteberg en lid van die Maluti Western Riders-klub, met haar perd Majestic Reign drie eerste plekke en twee tweede plekke verwerf.
Sy is ook op die Saterdag op dié geleentheid as die reserwekampioen in die junior vlak 1-afdeling aangewys. Mignon het met Majestic Reign ’n tweede plek in hierdie afdeling behaal.
Met nog een van haar perde, Hawk Wing, het Mignon sewe eerste plekke en drie tweede plekke verwerf. Sodoende is sy op die Sondag as die kampioen op junior vlak 4 aangewys.
Mignon en Hawk Wing kwalifiseer vir die Vrystaatspan. Sy het met Hawk Wing die algehele tweede plek uit ongeveer 80 deelnemers behaal.
Mignon berei haar nou voor vir die nasionale kampioenskapsbyeenkoms wat van 22 tot 28 September in Parys aangebied sal word.