Christine Naudé (17) en haar perd Cloudy Skies ten tyde van die nasionale saalperdproewe wat vroeër in Parys gehou is. Sy sal later vanjaar Protea-ruiterkuns se senior vyfgangspan in die wêreldkampioenskap verteenwoordig.Foto: Verskaf


’n Jong perderuiter van Bethlehem sien daarna uit om later vanjaar aan die wêreld-saalperdkampioenskap, wat elke vier jaar in Suid-Afrika aangebied word, deel te neem.

Sy is op die nasionale saalperdproewe wat van 25 tot 29 Januarie in Somerset-Oos gehou is vir Protea-ruiterkuns se senior vyfgangspan gekies.

“Dit is vir my ’n ongelooflike voorreg om in my matriekjaar aan die wêreldkampioenskap hier in Suid-Afrika te kan deelneem,” sê Christine Naudé (17), ’n gr. 12-leerling aan die Hoërskool Voortrekker.

Haar liefde vir perdry het van jongs af ontwikkel, en op nege jaar oud het sy aan perdrykompetisies begin deelneem.

“Ek het hokkie gespeel tot einde gr. 8, maar my liefde vir perdy het die oorhand gekry en dit is al sport waarop ek nou fokus,” sê sy.

Sy meen dat perdesport groot uitdagings bied, maar dat harde werk, deursettings­vermoë en passie haar sukses verseker.

Die hoofrede hoekom sy aan perdesport deelneem, is haar ongekende liefde vir perde.

“Ek en my twee perde Man of Rain en Cloudy Skies is onafskeidbaar en ons maak ’n gedugte span. Hulle gee altyd meer as wat ek vra.”

’n Hoogtepunt vir haar was toe sy in Julie 2019 die junior Protea-span verteenwoordig het en in New Orleans in Amerika gaan deelneem het.

“Dit was ’n wonderlike belewenis.”

Christine geniet dit om deur die beoefening van dié sportsoort nuwe mense te ontmoet, en sy het oor die jare heen goeie vriende só gemaak. Wanneer sy nie aan kompetisies deelneem nie kuier sy saam met vriende en familie.

Sy berei haar nou voor vir die Bethlehem-saalperdskou, wat die tweede naweek in Maart gehou word.

Sy sal ook in April aan die nasionale saalperdkampioenskap in Bloemfontein deelneem, waarna die wêreld-kampioenskap wink.

Christine word deur Glenda Koen afgerig en oefen twee keer per week, en drie keer of meer per week wanneer ’n kompetisie voorlê.

Haar motto is: “It is hard to beat a person who never gives up”.

You need to be Logged In to leave a comment.