Ruiter galop vooruit

’n Jong perderuiter van Bethlehem het groot opslae gemaak toe sy op die nasionale saalperdkampioenskapsbyeenkoms in Bloemfontein as ruiterkuns-kampioen in die leiriemstap- en draf-afdeling aangewys is.


’n Jong perderuiter van Bethlehem het groot opslae gemaak toe sy op die nasionale saalperdkampioenskapsbyeenkoms in Bloemfontein as ruiterkuns-kampioen in die leiriemstap- en draf-afdeling aangewys is.

Die agt-jarige Anouk Bredenkamp, ’n gr. 2-leerling aan die Laerskool Truida Kestell in Bethlehem en dogter van Brendon en Melissa Bredenkamp wat naby Daniëlsrus woon, het van oor tot oor geglimlag toe sy as algehele wenner in dié afdeling aangekondig is. Veral toe die beoordelaars die blou roset aan haar baadjie vassteek.

“Anoukie het van kleins af groot belangstelling in perde getoon; wanneer haar ouer boetie, Oliver, gaan perdry het, was sy vreeslik opgewonde daaroor. Op die ouderdom van vier jaar het ons haar vir perdrylesse ingeskryf, en op vyf jaar het sy saalperde begin ry,” sê Melissa.

Sedert 2022 het Anouk elke jaar aan saalperdskoue deelgeneem. Die skoue vind gewoonlik plaas in Standerton, Philippolis, Parys, Bethlehem en natuurlik op die Bloemfontein-skou waar die nasionale kampioenskapbyeenkoms aangebied word.

Anouk neem nou deel in die leiriem-afdeling, wat beteken dat haar afrigter saam met haar en haar perd in die skouring vir die kompetisie gaan stap. Van die nuwe skouseisoen af wat in September begin, sal Anouk oud genoeg wees om alleen aan kompetisies en kampioenskappe deel te neem.

In haar ouderdomsafdeling word die perd en die ruiter se vermoëns beoordeel.

Sy spog met verskeie eerste plekke wat op by die onderskeie skoue behaal het, maar die aanwysing as ruiterkunskampioen einde April is haar grootste prestasie.

Anouk is nou hard aan die werk ter voorbereiding van die Standerton-skou wat in September plaasvind, waar sy die eerste keer sonder haar afrigter sal deelneem.

Sy is ’n ruiter van die Crystal Anvil-stalle in Clarens en oefen twee keer per week, of wanneer sy vrye tyd het.

Haar eerste ponie, Pinky Pie, het sy as haar vyfde verjaardaggeskenk ontvang, en in Julie 2022 is sy verras met haar eerste saalperd, Anvil’s the Majesty, of soos sy hom noem, Majesty of Maji.

Die saalperd bly by die perdestalle waar hy afrigting ontvang.

Intussen het Anouk vir Midnight gekry, ’n lieflike, mak kinderperd waarmee sy op die familieplaas ry. Haar gunsteling-tydverdryf is om Midnight se hare te kam en mooi te maak.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.