’n Perderuiter van die Mooigelegen-ryskool in die Bally Duff-omgewing by Bethlehem het uitstekend gevaar op sy eerste mededingende uithourit.
Hanru Botes (15) het as junior ruiter aan die Willows-uithourit by Bloemfontein deelgeneem en was algeheel derde in ’n tyd van 4:36.
Met sy perd Kabier het hy oor 80 km teen 80 ander ruiters meegeding.
Die rit is op 28 Oktober aangepak.
Hanru se ma, Liza, rig hom af. Ter voorbereiding vir so ’n uithourit oefen hy regdeur die jaar, met drie tot vier sessies per week. Dus is hy ongeveer agt uur per week in die saal.
“Hanru het sy nuweling-fase in die sportsoort deur die loop van die jaar suksesvol voltooi. Hy kan nou mededingend deelneem, en ons is baie trots op sy prestasie in sy eerste mededingende uithourit,” sê Liza.
Hanru sal ook nou in aanmerking kan kom om op provinsiale vlak aan dié sportsoort deel te neem.
Hy berei nou voor vir sy volgende uithourit, wat in Januarie sal plaasvind, waarskynlik by Moolmanshoek in die Oos-Vrystaat.