Die Rooikatte is die nuwe kampioene van die VKB-Platteland-rugbyweek nadat hulle die Luiperds behoorlik mak gemaak het.
Dié toernooi is in die Junie-Julie-skoolvakansie in Reitz beslis.
Die span van Pretoria het met sy oortuigende sege van 44 – 10 oor die Luiperds die bordjies verhang teen sy teenstander, wat verlede jaar in die eindstryd tussen dié twee spanne met die louere weggestap het.
Die Luiperds het toe met 24 – 17 geseëvier.
Nadat die Luiperds van Noordwes, aanvanklik druk geplaas het op die span saamgestel uit seuns van verskeie private skole in Pretoria, het Luke Sass, Rooikat-senter van St Alban’s College,, se drie die momentum geswaai, en die Rooikatte kon die res van die wedstryd oorheers.
’n Driekuns aan drieë deur losskakel JJ Steenkamp; twee drieë deur haker Luke Webber; en ’n laaste drie om hul skitterende vertoning af te rond, aangeteken deur Zander Wessels van HeronBridge College, wat as ’n reserwe in die agterlyn opgekom het, was genoeg vir die Rooikatte om ’n gemaklike sege te behaal in die twee spanne se herontmoeting.
Anru Cronje, die Rooikatte se flank van Midstream College, is as speler van die wedstryd aangewys.
Met nog ’n driekuns op die eerste dag, en ’n enkele drie op die tweede, was JJ se sewe drieë die meeste wat deur ’n enkele speler in die toernooi gedruk is.
Jaedon de Leeuw, heelagter, was ook deurlopend betrokke met die aanval en kon ’n verdere nege punte met sy stelskoppe bydra.
Hoewel die Luiperds verbete, 46 minute lank, alles wat hulle het teen die Rooikatte se verdedigingslyn gegooi het, was PW Smit, die groot slot van Koster, die enigste speler wat ’n drie vir die span kon druk.
Dries Scheepers, een van die Luiperds se sterkste baldraers die week en die agtsteman van Lichtenburg, was weens ’n beserig afwesig in die eindstryd en dit het definitief ’n leemte gelaat. Met vyf drieë in die eerste twee wedstryde het Dries ’n groot rol gespeel in sy span se veldtog om ’n plek in die eindstryd te kry.
Benewens die span se sukses op die Platteland-week het die Rooikatte die Spar-sewestoernooi gewen. In die eindstryd van dié toernooi het die Rooikatte die Luiperds met 35 – 17 geklop.
Die Luiperds was ook verlede jaar se sewes-kampioene – die Rooikatte het vanjaar dus altwee titels voor dié span se neus weggeraap.
Die enigste ander span wat in dié toernooi onoorwonne was, is die Barbarians, wat die week op ’n hoogtepunt afgesluit het deur die Griekwas met 67 – 0 pak slae te gee.
Sakkie Brits, die Barbarians se flank van die Hoërskool Witteberg, kon ’n driekuns aan drieë in daardie wedstryd aanteken. Slot Lodie van Dyk van die Goudveld-Hoërskool en Daniel Meintjies van Witteberg, agtsteman, het twee drieë elk gedruk.
Daniel en Urban Pienaar, vleuel van die Goudveld, is die twee spelers wat in elke wedstryd van die rugbyweek ten minste een drie vir die Barbarians kon druk.
Puntemakers
Rooikatte 44 (24) Xdrieë: JJ Steenkamp (3), Luke Webber (2), Luke Sass, Zander Wessels; doelskoppe: Jaedon de Leeuw (3); strafdoel: De Leeuw.
Luiperds 10 (3) Xdrie: PW Smit; doelskop: Albert Joubert; strafdoel: Joubert.
Pumas 14 (14) Xdrieë: Walt Stander, Henco Morgenson; doelskoppe: Minehle Mtsweni (2); NKZN3 (3) Xstrafdoel: Kyle Barsdorf.
Barbarians
67 (38) Xdrieë: Sakkie Britz (3), Lodie van Dyk (2), Daniel Meintjies (2), Johan Whitehead, Tyrece Britz, Marco Grobler, Urban Pienaar; doelskoppe: Dries Stemmet (4), Tertius Loubscher, Jason Rolfe.
Griekwas
0.
Sandveld
12 (7) Xdrieë: Aboubacar Gaye, Marnus Swart; doelskop: Alex du Pisani. Zululand 10 (10) – drieë: Josias van Schalkwyk, Meilin Viljoen.
Vrystaat Kiewiete 45 (28) Xdrieë: Wehan Strydom (3), Tumi Pholoane (2), Frans Botha, Reinieco Nel; doelskoppe: Henré Smith (4), Nel.
SKZN
31 (14) Xdrieë: Tiaan le Roux, Jordan Lubbe, Bongokuhle Nyenyana, Banele Nombika; doelskoppe: Jayden Matthews (4); strafdoel: Matthews.
Kiewiete Platteland
25 (22) Xdrieë: Denver Jacobs, Bin Laden Macholo, Reghardt Fourie;. doelskoppe: Licha Leballo (2); strafdoele: Leballo (2).
Oos-Vrystaat 19 (7) Xdrieë: Fanie Malakoane, Letlotlo Mohale, Phatela Sehlotho; doelskoppe: Tebello Kabi (2).