Rooies van ’71 herleef halfeeu

Die 1971-klas van die voormalige Afrikaanse Hoërskool Kroonstad (Rooiskool) het onlangs sy 50-jaarreünie gevier.

Die 1971-klas van die voormalige Afrikaanse Hoërskool Kroonstad is. van links, voor: Susan van Schalkwyk, Naomi Schmidt, André Strauss, Zachie Zietsman en Elize van der Mescht Credit: SYSTEM

Die 1971-klas van die voormalige Afrikaanse Hoërskool Kroonstad (Rooiskool) het onlangs sy 50-jaarreünie gevier.

“Weens die Covid-19-pandemie was dit nie vir ons moontlik om die mylpaal in 2021 te vier nie. Daarom het ons as groep besluit om die reünie vroeg vanjaar te hou,” sê Johan Woest, een van die organiseerders.

Hoewel die ou klasmaats wat die geleentheid bygewoon het heelwat minder was as met die 40-jaarreünie, het die groep heerlik saamgekuier toe hulle eindelik op 4 Februarie in Kroonstad kon byeenkom.

“Baie van ons groep het na die suide verhuis of woon selfs oorsee, maar die res van ons was vasbeslote om weer saam te kuier.”

Die groep het hul eerste reünie gehou eers 21 jaar nadat hulle matriek geskryf het, en sedertdien was daar geen keer nie.

Die 40-jaarreünie is met ’n spoggerige dinee gevier, en die uitspattigste viering tot dusver was die 45-jaarreünie met ’n hippie-tema.

Ettienne Fourie, destydse onderhoofseun, sê die groep gryp elke geleentheid om saam te kom ten volle aan.

“Ons hou reünie nie net ter wille van die nostalgie en weens heimwee en verlange na mekaar nie, maar omdat ons besef die tyd raak vinnig minder. Dit kan dalk ons laaste reünie wees”.

Die ou klasmaats is dit eens dat vanjaar se reünie ’n spesiale geleentheid was en dat dit wonderlik was om hul lief en leed te deel.

Ten tyde van die groot groet ná die naweek het hulle met vaste voorneme besluit dat hul verhoudinge as groep sterk sal bly en dat hulle die Rooiskool-waardes sal bly uitleef.

You need to be Logged In to leave a comment.