Derde gewapende rooftog in minder as 2 weke op dorp

Die winkel is net voor toemaaktyd deur gewapende rowers beroof.


‘n  Derde gewapende rooftog het in minder as twee weke in Bethlehem plaasgevind, toe die Railway Liquor Store op die dorp net voor toemaaktyd deur gewapende rowers beroof is. 

Op Vrydag (18/03) omstreeks 19:55 net voordat die onderneming wou sluit, het ‘n man ingeloop om twee biere gekoop. Nog twee mans het ingestap en die personeel by die deur met vuurwapens na binne gedwing. Die drie rowers wat baie aggressief en brutaal was, het beveel dat die kasregisters oopgemaak moet word, en dat alle geld op die perseel aan hulle oorhandig moes word.

Die personeel is gedwing om plat op die vloer te lê terwyl die geld uit die kasregisters gebuit is. Daarna is al die personeel insluitende Marius en Martin Dreyer die eienaars, met wapens gedwing tot in die stoorkamer waar hulle op die grond moes lê. Hulle kon ‘n geskarrel voor in die drankwinkel hoor voordat alles skielik stil geword het.

Die eienaars het dadelik die sekuriteitsfirmas, nooddienste en polisie ontbied. Al die nooddienste was vinnig op die toneel. “Ons is ongelooflik dankbaar dat ons almal ongedeerd uit die rooftog gestap het en ook vir die flinke diens deur die nooddienste en polisie. ‘n Swanger werknemer is dadelik hospitaal toe geneem vir waarneming. Ons is dankbaar dat sy en die baba veilig is,” sê Marius.

Die verdagtes is met die geld uit die kasregisters en drank daar weg. Volgens kringtelevisieopnames het hulle in ‘n wit Mercedes-Benz gevlug. “Alles het so vinnig gebeur en ons sukkel om na die trauma tot verhaal te kom,” sê Martin. 

Polisiewoordvoerder Mmako Mophiring, het bevestig dat ‘n saak van gewapende roof geopen is en dat geen verdagtes nog in hegtenis geneem is nie. Die polisie maan alle sakeondernemings om uiters versigtig en meer paraat te wees asook om hulle sekuriteit op te skerp. Railway Liquor Store se personeel sal almal vir professionele traumaberading gaan. Indien enigiemand moontlike inligting oor die voorval het, moet hulle die polisie in Bethlehem onmiddellik kontak. 

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.