Die Bethlehem AfriForum-tak in het ’n simboliese rommelmonument in Lughawestraat in die dorp opgerig om die Dihlabeng-munisipaliteit se voortgesette versuim om rommel behoorlik te verwyder, aan die kaak te stel.
Die inwoners en sakeondernemings is raadop oor die rommel wat die dorp ontsier, terwyl die munisipaliteit bloot anderpad kyk.
Op Vrydag 14 November is die monument, wat uit ’n hout- en draadstruktuur bestaan gevul met rommel wat in die gebied rondgelê het, opgerig om bewusmaking oor die omvang van die probleem te skep.
Volgens Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland-area, is die rommelkwessie ‘n jarelange probleem wat voortduur.
“AfriForum het die afgelope twee jaar talle skrywes aan die munisipaliteit gerig, asook insette gelewer tydens jaarlikse GOP-vergaderings. Ons het ons kommer uitgespreek oor besoedeling, brandgevare en die toename in peste wat hierdie vullis meebring. Ongelukkig val ons hulpkrete elke keer op dowe ore,” sê Ikking.
Daarom het die organisasie besluit om ‘n duidelike standpunt in te neem deur die rommelmonument op te rig.
Ikking sê rommel wat nie opgetel en verwyder word nie, word al meer aan die brand gesteek, wat ’n geweldige risiko inhou vir sakeondernemings.
“Rotpeste neem toe in Bethlehem en die besoedeling van ons waterbronne raak ’n groot bedreiging. Deur eenvoudig die rommel gereeld op te tel, kan verskeie probleme sommer dadelik opgelos word.”
Volgens die organisasie is die gebrek aan dienslewering onverstaanbaar, omdat die munisipaliteit oor die nodige toerusting en personeel beskik.
“Daar is werkers wat daagliks papiere in die strate moet optel en die munisipaliteit beskik oor ’n werkende vullisverwyderingstrok. Hoekom kan die sakesentrum nie skoon gehou word nie?”
Hulle doen ‘n beroep op die inwoners van Bethlehem om saam te staan en hulle stemme te laat hoor sodat die munisipaliteit hulle grondwetlike pligte kan nakom.


