Romeine 13:13 en 14: Ons moet welvoeglik lewe soos dit in die daglig hoort. Daar moet geen drinkery en uitspattigheid, geen ontug en onsedelikheid, geen rusie en jaloesie wees nie. Nee, julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en nie voortdurend daarop uit wees om julle sondige begeertes te bevredig nie.
Elkeen van ons sit met rommel in ons lewe.
Ons rommel – ons sondes wat ons in ons binneste ronddra.
In die alledaagse van hierdie wêreld waarin ons leef, is daar twee oplossings wat toegepas word om met die gewone rommel van die lewe mee te werk. Hierdie oplossings geld ook vir die rommel van ons geestelike lewe.
Alles wat God gemaak het, is verganklik.
Niks lewe vir altyd nie – selfs die oudste boom gaan die een of ander tyd dood.
Maar in sy natuur het God hierdie wet gestel: Die verrotte en dooie goed word kompos vir die grond, waaruit nuwe lewe voortspruit.
Kompos stimuleer die goeie en die mooi sodat daar uit die rommel ’n blom kan groei. Uit die oue bring God lewe.
Dit is ook die boodskap van die Bybel – God kan die slegste neem en die beste daarvan maak.
Dit is die boodskap van Golgota, wat die ashoop en begraafplaas van Jerusalem was.
Op daardie heuwel het God die beste kompos nog ooit tot stand laat kom. Kompos wat alle ou rommel van elke mens kom verander het en daaruit iets nuuts, ’n nuwe lewe, tot stand gebring het.
- De Kock is leraar aan die NG kerk Bethlehem-Noord.