Inwoners van die Dihlabeng-munisipaliteit is raadop weens die gehawende toestand waarin openbare ruimtes soos begraafplase, parke, verkeerseilande en sypaadjies is.
“Ons het verskeie klagtes van ontstelde inwoners ontvang en gaan ondersoek instel. Dit was ooglopend hoe openbare ruimtes wat bedoel is om ’n vreedsame en goed onderhoude omgewing vir inwoners en besoekers te skep agterweë gelaat is en vervalle geword het,” sê Estie Senekal, raadslid.
Intussen het die DA in Dihlabeng al die klagtes oorgedra aan die lid van die burgemeesterskomitee gemoeid met gemeenskapsdienste, wat vir die openbare ruimtes verantwoordelik is. Geen terugvoering is egter nog op die skrywes ontvang nie.
Volgens die party is instandhouding die primêre kwessie. Die DA wys daarop dat die gras in die genoemde gebiede soms weke lank nie gesny word nie, en wanneer dit wel gedoen word, word die hope gras nie verwyder nie – wat lei tot onaangename en gevaarlike omgewings.
“Klagtes is ook ingesluit oor bome en takke wat ruimtes oorgroei en ’n beduidende veiligheidriskio vir besoekers aan die omgewings kan inhou. Ons het veral opgelet na die ou bome in Wesselspark wat nie onderhou word nie en ’n ernstige gevaar inhou,” sê Senekal.
Dr. Roy Jankielsohn, leier van die DA in die Vrystaat, sê die raad wag op ’n verslag en versekeringseis met betrekking tot die lapa by Voëlpark wat reeds vyf maande gelede erg beskadig is en nog nie herstel is nie.
VrystaatKroon
het ’n navraag aan die Dihlabeng-munisipaliteit gerig en wag op terugvoering.