Die Collegians-ringbalklub in Kroonstad vier vanjaar sy 51ste bestaansjaar en daarmee saam het die klub ook die vroue- en mansliga gewen.
“Die mans het in die afgelope paar jaar hul liga gereeld gewen, maar ons is baie trots op die vrouespan wat vir die eerste keer in vyf jaar weer hul liga kon wen,” sê Willie Wiese, voorsitter van die klub.
Wiese is ook die visie-president van Vrystaat-ringbal.
Drie spelers van Collegians-ringbalklub het spesiale eerbewyse ontvang vir die seisoen as beste spelers in hulle onderskeie onderdomsgroepe.
Cornel Saunders ontvang die eerbewys as beste mans o.23-speler, Ananke Loubser, kaptein van die vrouespan, is as beste vroue o.23-speler aangewys en Chantelle Wiese het die titel as beste senior vroue ontvang. Die senior kategorie is tussen die ouderdom 24 en 35 jaar.
Vyf vroue van die klub is in die Vrystaatse senior-ringbalspan ingesluit:
Chantelle Wiese (kaptein), Ananke Loubser (onderkaptein), Janique Loubser, Kietana Greyling en Amuré Louwrens.
“Dit is wonderlik om die klub se 51ste bestaansjaar te vier en boonop die seisoen op ‘n hoë noot af te sluit,” sê Wiese.
Die klub oefen Maandae en Woensdae van 18:00 tot 19:30 by die ou Sentrale Volkskool in Kroonstad. Vir meer inligting bel Willie op 063-394-9712.