Reservaat ’n toonvenster ná vernuwing

Die Lionsrock Big Cat Sanctuary, buite Bethlehem, het ’n splinternuwe baadjie aangetrek en is deur die uitvoerende hoof, Josef Pfabigan, met ’n lintknip-seremonie heropen.


Die Lionsrock Big Cat Sanctuary, buite Bethlehem, het ’n splinternuwe baadjie aangetrek en is deur die uitvoerende hoof, Josef Pfabigan, met ’n lintknip-seremonie heropen.

Die spoggerige geleentheid Vrydag (06/01) is deur oorsese borge en plaaslike gaste, asook belanghebbendes en personeel van die organisasie Four Paws bygewoon.

“Die heropening van die Lionsrock Big Cat Sanctuary vir besoekers vorm ’n belangrike deel van Four Paws se dierewelsynswerk wêreldwyd,” meen Pfabigan.

“Dit is belangrik vir besoekers om die konsep van die diere, wat meestal uit vreemde omstandighede gered moes word, se welsyn, die hervestiging en hul welstand te verstaan.

“Ek glo op dié manier sal die werksaamhede en die belangrikheid daarvan nie net in Suid-Afrika nie, maar oor die wêreld heen, versprei.”

Lionsrock is in Februarie 2008 geopen en is daar sedert 2022 ná maande se strategiese beplanning en konsultasie met die toerismebedryf, met die opknappingswerk begin om aan die reservaat ’n vars nuwe voorkoms te gee.

Die nuwe dekor van die restaurant, asook van die akkommodasiegeriewe, is lig en modern, volgens ’n Afrika-geïnspireerde tema.

Die reservaat is een van vyf in die land wat ’n vesting vir groot katte bied. Besoekers wat ’n ekologiese en etiese visie het en op dierewelsyn fokus, word genooi om die reservaat te besoek.

Fiona Miles, direkteur van Four Paws Suid-Afrika, sê ’n volledige paradigmaskuif is gemaak van ’n tradisionele toerisme- en gasvryheidsfokus na die klem op die kerndoel van Four Paws, naamlik dierewelsyn.

“Ons is opgewonde daaroor om besoekers met die toere dieper insig in ons organisasie se werksaamhede te gee, veral met die klem op die werk wat ons doen vir die diere se welstand,” verduidelik sy die oogmerk.

“Ons het vir besoekers ’n keuse van nuwe pakkette saamgestel wat ’n wegbreekgeleentheid vir enigiemand sal kan bied. Dit sluit in luukse verblyf, ’n restaurant en begeleide toerpakkette waardeur die besoekers hulle na hartelus in die pragtige natuurskoon en indrukwekkende diere van Lionsrock kan verlustig.”

“Ongeag of ’n besoek twee uur of sewe dae duur, dit sal vir seker ’n lewenslange indruk op besoekers maak net om te sien hoe die diere uit haglike omstandighede weer vry in die natuur oorleef,” meen Miles verder.

“Ons hoop dat die ervaring mense sal toerus met die kennis om op ’n volhoubare manier ’n positiewe verskil in hul daaglikse lewe te maak.”

Lionsrock is een van 13 reservate wat deur Four Paws gestig is om ’n lewenslange tuiste te bied aan groot katte soos leeus, tiere en luiperds wat uit dieretuine, sirkusse, private gevangenskap of die gebliktejagbedryf gered is.

Die grond was aanvanklik ’n aspersie- en mielieplaas en is in 1998 in ’n wildreservaat en gasteplaas omskep.

In November 2006 is dit deur die wêreldwye welsynsorganisasie Four Paws oorgeneem en die bou van nuwe kampe en die opknapping van infrastruktuur het ’n jaar geneem voordat die eerste inwoners kon intrek.

Die eerste Europese leeus het in November 2007 by Lionsrock aangekom en die mees onlangse toevoegings, in November 2022, is die #GoldenPride, tien leeus wat uit ’n teelgerief in Gauteng gered is.

Die reservaat beslaan altesaam 1 250 ha, waarop benewens die groot katte ook die tuiste van verskillende Suid-Afrikaanse wild soos wildsbokke, sebras en ens insluit. ’n wye verskeidenheid voëlspesies het ook hier hul vesting gevind gehuisves word.

Die reservaat is 18 km buite Bethlehem geleë.

You need to be Logged In to leave a comment.