Res van SA wil ook gedy

Die Ignite and Revive-gemeenskapsgroep, wat ’n groot rol gespeel het in Kroonstad se oorwinning in Kwêla se Dorp van die jaar-kompetisie, se energie ten opsigte van sy werksaamhede het soos ’n veldbrand versprei. Dorpe oor Suid-Afrika heen het die gr


Die Ignite and Revive-gemeenskapsgroep, wat ’n groot rol gespeel het in Kroonstad se oorwinning in Kwêla se Dorp van die jaar-kompetisie, se energie ten opsigte van sy werksaamhede het soos ’n veldbrand versprei. Dorpe oor Suid-Afrika heen het die groep gekontak om oor dié wenresep uit te vind.

“Verteenwoordigers van dorpe in verskeie provinsies het ons gebel, of selfs afgevaardigdes gestuur wat by ons kom aanklop het om deel van die groter prentjie te word. Dit is lekker om te weet dat daar dorpe is wat daarna smag om ’n verskil te maak,” sê André van Pletzen, wat aan die stuur van Ignite and Revive is.

Uit die Noordwes het Brits en Hartebeespoortdam kom aanklop, en Kimberley in die Noord-Kaap was kort op hul hakke. Oproepe is uit Bethlehem ontvang, en afgevaardigdes sal binnekort vergader om hul planne in te stel. Van Pletzen is ook na die Wes-Kaap genooi om leiding te gee.

“Samewerking deur sakeondernemings, die plaaslike regering en breë gemeenskap is van kardinale belang. Daar sal altyd uitdagings wees, maar as hulle saamstaan en op die einddoel fokus, sal hulle sukses behaal,” sê hy.

“Ongeag verskille wat betref geloof, politieke voorkeur of kultuur het mense hande gevat om ’n omkeer in Kroonstad te verseker.”

Uit die hele proses spog Kroonstad onder meer met sterk, nuwe Afrikaanse en Engelse skole, en Solidariteit se Navorsingsinstituut (SNI) het gevra om die dorp se plan in sy verslag te publiseer, wat landwyd bekendgestel kan word. Dít, buiten die daaglikse opruiming en herbou van die dorp wat sigbaar is.

Belangstellendes kan die groep se werksaamhede op die Facebook-blad Ignite & Revive Kroonstad volg.

You need to be Logged In to leave a comment.