“Ons hokke is vol, en met die feestyd op hande is daar gewoonlik baie meer druk op die DBV om in al die diere se behoeftes te voorsien,” sê Martin Dreyer, voorsitter van die Bethlehemse DBV.
“Ons moedig die publiek aan om skenkings te doen, asook om dit te oorweeg om ’n dier aan te neem.”
Die DBV is ’n nie-winsgewende organisasie wat van borge en skenkers afhanklik is. Geen staatsubsidie of geldelike ondersteuning word van die plaaslike regering ontvang nie.
Die organisasie doen ’n dringende beroep op die gemeenskap vir ondersteuning. Geld vir uitgawes wat dag-tot-dag van toepassing is – soos vir brandstof, dierekos, veeartsenydienste en salarisse – is dingend nodig.
Die Bethlehemse DBV bedien Bethlehem, Clarens, Fouriesburg, Kestell, Lindley, Paul Roux, Petrus Steyn, Reitz, Rosendal, Senekal en Tweeling.
Vir meer inligting, of om by die DBV se bedrywighede en die ondersteuning daarvan betrokke te raak, kontak die tak in Bethlehem by 058-303-3998.