Rede vir feesvier groot genoeg

Ek sien gereeld hoe ouers video’s en foto’s van hul kinders se verjaardag op die sosiale media deel. ’n Goue draad wat deur al die plasings loop, is die kindergesiggies vol vreugde.


Ek sien gereeld hoe ouers video’s en foto’s van hul kinders se verjaardag op die sosiale media deel. ’n Goue draad wat deur al die plasings loop, is die kindergesiggies vol vreugde.

Geskenke, verjaardagkoeke, maatjies, ballonne en die res maak die kinderharte so opgewonde.

Op elke foto sien jy net rye tandjies, soms met ’n paar gapings tussenin, om hul vreugde te deel.

Op Sondag 5 Junie was dit die kerk se verjaardag – met Pinksterfees wat wêreldwyd gevier is.

Die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag word tradisioneel as die geboorte geag en daarom as die kerk se verjaardag.

Die kerk was egter nie op sy verjaardag so vol vreugde en blydskap soos kinders op die sosiale media met hul verjaardag is nie. Daar is geen groot partytjie gehou om die kerk se verjaardag te vier nie.

Ek kan nie anders as om te wonder hoekom nie.

Hemelvaart en Pinksterdag is die geleenthede op die kerklike kalender wat waarskynlik die minste aandag kry en waaroor die minste opgewondenheid heers. Kersfees gaan met groot vreugde gepaard, Paasfees word oral gevier as die grootste en belangrikste gebeurtenis op ons kerkkalender, maar Pinksterdag – dit is maar net nog ’n Sondag.

Pinksterfees hoef egter nie vir een sekonde terug te staan vir die ander Christelike feeste nie.

Trouens, met Pinkster het ons die absolute versekering gekry dat God se Woord deur al die eeue waar en betroubaar is: Hy is waarlik Immanuel – God by ons.

Jesus sê vir ’n paar bang en bekommerde dissipels op ’n dag dat Hy die Heilige Gees sal stuur om ewig by ons te wees en dan kom hierdie wonderlike woorde in Johannes 14:18 aan die beurt: “Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie.”

Daarvoor sal die Heilige Gees sorg. Nooit hoef ek te wonder waar is God, hoor Hy my, sien Hy my nood, seer, probleme en my lewe raak nie.

Met Pinkster het Hy sy intrek in ons hart geneem en bly Hy nou totdat ons Heer weer terugkom of ons na Hom toe gaan.

Wat ’n ongelooflike voorreg, en dit is meer as genoeg rede om groot verjaardagfees te vier.

  • Weideman is leraar aan die NG kerk Kroonheuwel-Noord, Kroonstad.

You need to be Logged In to leave a comment.