Die gewilde Oos-Vrystaatse radiostasie Maluti FM, waarvan die ateljee in Bethlehem geleë is, is uit 89 benoemings vir die eerste keer in die afdeling vir stasiebestuurder se keuse op die jaarlikse Radio-toekenningsgeleentheid vereer.
Die 12de Radio-toekenningsgeleentheid is einde verlede jaar aangebied, en te midde van die strawwe kompetisie is Maluti FM oorstelp van vreugde om sy eerste eerbewys te ontvang.
Christa Mostert, Maluti FM se bemarker, het die eerbewys op ’n spoggeleentheid in Parktown, Johannesburg, in ontvangs geneem.
Die eerbewys word hoofsaaklik toegeken aan iemand wat agter die skerms ’n groot verskil maak en invloed het.
“Christa het die eerbewys ontvang vir haar ongelooflike deursettingsvermoë en vasberadenheid met die bemarking van Maluti FM. Die stasie het moeilike omstandighede oorleef, en ons is dankbaar vir Christa se ongelooflike bydraes,” sê Brenda Shepherd, stasiebestuurder.
Shepherd sê verder dat daar strawwe kompetisie was en dat Maluti FM en sy personeel, asook die gemeenskap, baie opgewonde is om die eerbewys hier in die Oos-Vrystaat vesting te gee.
“Maluti FM is trots om deel te wees van die Dihlabeng-gemeenskap te wees wat die stasie bedien.”
Deur die Radio-toekenningsgeleentheid word radiostasies vir uitstaande prestasies vereer, en kampus-, gemeenskap-, openbare uitsaaidiens (PBS), kommersiële en internetradio word betrek, asook podsendings podcast.
Die beoordeling is deur ’n paneel van 37 beoordelaars behartig en deur die ouditeursfirma BDO SA hersien.