Die gemeenskapsradiostasie Maluti FM97.1 is ’n radiostasie vir die gemeenskap en daar moet saamgewerk word om die stasie vir Oos-Vrystaters te behou.
Danksy die wyse waarop Coenie Venter, hoof van die Hoërskool Witteberg, as onafhanklike voorsitter dié radiostasie se algemene jaarvergadering hanteer het, het die vergadering nie in ’n kruitvat ontaard nie.
Die vergadering sou aanvanklik in die Hoërskool Witteberg se klubhuis gehou word, maar vanweë groot belangstelling is dit na die skoolsaal verskuif.
Thabitha Seremula van die Onafhanklike Kommunikasie- owerheid van Suid-Afrika (Icasa) het op die vergadering gesê dat daar ’n verbod op frekwensies is, aangesien daar nie meer frekwensies beskikbaar is nie. Wanneer ’n radiostasie dus sy lisensie verloor, kry dit nie maklik weer een nie.
Seremula het gesê sy het sowat twee jaar gelede onder die indruk gekom dat die radiostasie finansieel sukkel en hul lisensie wou prysgee.
“Icasa was egter nie tevrede met die inligting wat ontvang is nie en die aansoek is afgekeur. Dit is toe beter so, want kyk die belangstelling vanaand.”
Sy het besef daar is twee verskillende partye betrokke en het albei partye aangemoedig om die groter prentjie van ’n volhoubare radiostasie te sien en Seremula wil toesien dat ’n oplossing gevind word.
Venter het die jaarverslag voorgehou. Hierin is onder meer gesê dat Enslins die radiostasie se ouditeur is. Weens bepaalde omstandighede is geld wat ontvang is, aanvanklik in Alda van der Merwe, een van die direkteure, se bankrekening inbetaal. Dit is nie meer die geval nie en die radiostasie het deesdae sy eie rekening.
Een van sy grootste uitgawes is aan Centlec, wat aan hom ’n sterker sein bied.
Die jaarverslag is nie goedgekeur nie en die betrokke partye wat nie tevrede was met die inhoud daarvan nie, sal nou skriftelik die direkteure daarvan in kennis stel.
’n Vergadering sal hierna gehou word om die verslag goed te keur.
Seremula het aanbeveel dat Maluti FM97.1 se personeel ander gemeenskapsradiostasies besoek.
Hanlie de Lange, waarnemende stasiebestuurder, het gesê hulle het reeds ander stasies besoek en was onder meer onlangs by Maroela FM.
De Lange het gesê hulle gaan verskillende kommissies aanstel, wat elkeen ’n sameroeper gaan hê. Een van hulle sal personeelkwessies aanspreek om omroepers te beskerm.
Maluti FM97.1 is tans besig om aansoek by Icasa te doen om ’n sterker sender. Daar is ook na alternatiewe diensverskaffers gekyk, maar die koste is te hoog om te verander.
Dihlabeng FM100.5, wat die afgelope agt maande uitsaai, en Maluti FM97.1 werk ten nouste saam.
Laasgenoemde stasie het hoofsaaklik Afrikaanse en Engelse luisteraars, waar Dihlabeng s’n oorwegend Sotho is. Albei gaan nou aansoek doen om wysigings te laat aanbring om in dié tale uit te saai.
Maluti FM97.1 moes volgens ooreenkoms ook in Sotho en in ’n bietjie Zoeloe uitsaai.