Die meisiekrieketspan van die Hoërskool Witteberg het weer koning gekraai op die veld in ’n kragmeting teen die Hoërskool Paul Erasmus in Senekal.
Op Woensdag 18 Oktober het Witteberg se eerste span in ’n 20-beurtwedstryd teen die tweede span van die Hoërskool Paul Erasmus te staan gekom.
Witteberg het eerste gekolf en 243 lopies in die gegewe beurte aangeteken.
Amy Kotzé van Witteberg het 30 lopies van 26 balle (nie uit nie) aangeteken, en Leozé Lottering 32 lopies van 17 balle. Die beste kolfbeurt vir die dag is deur Evané du Toit gelewer, wat 55 lopies van slegs 35 balle kon moker.
Ná etenstyd het Leozé een paaltjie in twee beurte geneem en slegs twee lopies afgestaan. Marichelle Spies het twee paaltjies in twee beurte geneem en slegs vyf lopies afgestaan.
Drie kolwers is uitgehardloop danksy puik veldwerk van Arné Maritz, terwyl Zané Wessels en Amy Kotzé twee kolwers kon stonk.
Die ster van die dag met die bal was Lize van den Bergh, wat in twee beurte twee paaltjies geneem en slegs een lopie afgestaan het.
Paul Erasmus se penne was almal plat ná 9.4 beurte en dié span kon slegs 24 lopies aanteken.
Witteberg het as wenner uit die stryd getree, met 219 lopies.