Program se hulp gee hulle vlerke

Om soos arende te vlieg: Dit is die tema van Engo se sorgverlaters­program vir kinder- en jeugsorg­sentrums se kinders wat hul skoolloopbaan afsluit.


Om soos arende te vlieg: Dit is die tema van Engo se sorgverlaters­program vir kinder- en jeugsorg­sentrums se kinders wat hul skoolloopbaan afsluit.

As deel van hierdie program kom kinders van oor die Vrystaat heen in die Maart-vakansie van hul laaste skooljaar tien dae lank in Bloemfontein bymekaar. In dié tyd leer hulle onder meer sekere vaardighede aan en doen skaduwerk by ondernemings met wie Engo ’n ooreenkoms het.

Navorsing oor die program het bevind dat die kinders ’n behoefte aan bekostigbare verblyf het. So het Eagle’s Nest, wat verblyf aan 12 jongmense verskaf, ontstaan.

Hierdie program, wat 40 tot 50 jong mense jaarliks voltooi, is die teelaarde van vele mooi stories van hoop.

Frikkie van Dyk van Engo se provinsiale kantoor vir jeugsorg­sentrums en verantwoordelik vir hierdie program, vertel hoe drie kinders se lewe aangeraak is nadat twee van hulle dringende werk aan hul tande benodig het.

Kamo Mbaliso (22), verlede jaar ’n matrikulant aan die Lekhulong Secondary School in Rocklands by Bloemfontein, vertel hoe hy eendag by die skool flou geword het en al vier sy voortande gebreek het.

Kamo, wat in die kinderhuis is vandat hy 17 jaar oud is, studeer finansiële bestuur, maar hy is nou dringend op soek na werk sodat hy sy studie deeltyds kan voortsit.

Vir Marinda Venter (19), in 2022 ’n matrikulant aan die Hoërskool Sand du Plessis, was haar tande iets wat haar hele lyf vergiftig het en haar siek gemaak het. Die tandarts se werk aan haar tande het dus haar gesondheid verbeter en sy is baie trots op die draadjies wat sy reeds aan haar boonste tande gekry het – met rekkies wat by haar veelkleurige haredos pas. Marinda werk by ’n haarsalon in Bloemfontein en droom van ’n kwalifikasie in haarkappery en skoonheidskunde.

“Ek was ’n rebel, maar nou het ek ’n werk en blyplek,” vertel dié boorling van Queenstown wat al 11 jaar in Bloemfontein woon. Sy was sewe toe sy na die kinderhuis gekom het. Sy is ook ’n kranige judoka wat al Protea-kleure gekry het en silwer op ’n byeenkoms in Malawi gewen het. Marinda oefen nou hard vir die Suid-Afrikaanse kampioenskap wat in Julie plaasvind.

Haar afrigters, Deirdre en Aldo Schroeder, lê haar baie na aan die hart.

Die kwotasie vir die werk aan Kamo en Marinda se tande was sowat R25 000 – wat hulle nie gehad het nie, vertel Van Dyk, wat tot einde verlede jaar hoof van die Ons Kinder- en Jeugsorgsentrum in Bloemfontein was. Nadat ’n plaaslike onderneming vir hulle ’n borgskap aangebied het, is dié geld gebruik om hiervoor te betaal.

Die tandarts wat aan hul tande gewerk het, het nie van die program vergeet nie en het Engo einde verlede jaar gekontak om te hoor of hulle sorgverlaters het wat dalk werk soek aangesien ’n pos by die praktyk ontstaan het.

So het Christina Pottas (19) daar begin werk as ’n tandarts-assistent en ontvangsdame.

Christina, wat verlede jaar aan die Hoërskool Sand du Plessis gematri­kuleer het, borrel oor die geleent­hede wat sy gekry het en die goeie vriende wat sy in die kinderhuis gemaak het.

“Ek was paniekbevange toe ek verlede jaar besef ek moet die kinderhuis verlaat. Dit was ons safe haven.”

Tale was op skool haar sterk punt en sy skryf van jongs af al gedigte en stories.

“Ek hou daarvan om nuwe goed te doen. ’n Mens weet nie wat jy kan doen totdat jy ’n helpende hand kry nie. Sonder die Here sou ek nie wees waar ek nou is nie.”

Haar werk by die tandartspraktyk het haar soveel laat groei.

“Ek kan beter kommunikeer, ek antwoord die telefoon en praat met vreemde mense – iets wat ek voorheen nie sou doen nie. Boonop moes ek op my eie gaan woon en verantwoordelikheid neem vir my eie kruideniersware, vir my eie lewe.”

’n Arend het baie mooi eien­skappe, en daar is sewe beginsels wat in die sorgverlatersprogram toegepas word. Maar een staan uit: Arende is die enigste voëls wat van ’n storm hou. Hulle vlieg in die storm in en gebruik die wind om in sekondes hoër te vlieg.

Hulle gebruik die druk van die storm om hoër te sweef.

Kinders wat in kinder- en jeugsorgsentrums groot­geword het, is almal deur storms, maar hier kry hulle geleenthede wat hulle dalk andersins nie sou kry nie: om hoog te vlieg.

  • Mense kan ook deelneem aan Engo se Projek van Hoop, waarin een wenner in Desember ’n Renault Kwid Life ryker sal wees.

Die projek word ’n 12de keer deur Engo Vrystaat aangebied om geld in te samel vir dié liefdadigheids­instansie se afdelings wat die lewe van bykans 200 000 mense raak.

Om ’n kans te staan om die Renault te wen, doen ’n skenking van R30 by enige Engo-kantoor of op engo.co.za. Elke maand word ’n gelukstrekking gehou en dan staan een skenker die kans om R1 000 te wen. Die projek duur tot 15 November en die finaliste-trekking vind op 6 Desember plaas.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.