Ontluikende boere van Kroonstad en omgewing is op ’n spoggeleentheid in dié dorp vereer vir hul deelname aan en voltooiing van AgriBesigheid se transformasie-program.
Op 23 Junie het 13 boere wat op verskillende terreine van die landboubedryf berdrywing is, sertifikate vir voltooiing ontvang.
Dr. Johan van Zyl, senior lektor aan die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) in Bloemfontein se fakulteit van bestuurswetenskappe, sê ontluikende boere het leiding nodig om ’n boerdery verantwoordelik, suksesvol en toegewyd te bedryf.
“Voedselsekerheid kan net verseker word mits ons in ons ontluikende boere belê met die regte leiding.”
Die program is in 2019 begin deur Standard Bank, die Universiteit van die Vrystaat (UV) en die department van landbou.
Sedertdien het 111 opkomende boere in die Vrystaat en 18 in die Noord-Kaap dit suksesvol voltooi.
In vanjaar se program is 30 boere van die Vrystaat en 16 van die Noord-Kaap geregistreer.
Neil Ferris van Standard Bank sê dit was belangrik om te belê in ontluikende boere, nie net vir voedselsekerheid nie, maar vir werkskepping en om vir die ontluikende boere en hul families ’n nalatenskap agter te laat.
Ferris het verder gesê dit maak hom opgewonde oor die toekoms omdat vroue reeds hul stempel afdruk in die bedryf en suksesvol is.
Een van die suksesverhale van AgriBesigheid se program is Thandi Mohale van Welkom, wat spinasie aanplant en dan spinasiesap maak wat versprei en verkoop word.
Tracy Marobobo, ’n ontluikende boer van Ventersburg, het die betrokkenes bedank vir die leersame platform wat hulle geskep het.
“Ons is dankbaar dat julle in ons belê het, en ons belowe om hard te werk en terug te ploeg in die landboubedryf.”