Drie vermeende swendelaars wat vir verskeie bedrogsake regoor die land gesoek word is Donderdag 3 Julie, by die Presidenthof in die middedorp van Kroonstad aangekeer. Foto: Verskaf
Drie vermeende verdagtes wat vir verskeie bedrogsake oor die land heen gesoek word is op Donderdag 3 Julie by die Presidenthof-wonings in die middedorp van Kroonstad aangekeer. Foto: Verskaf

Drie vermeende Facebook-swendelaars is deur ‘n man van Pretoria in Kroonstad vasgetrek nadat hulle hom bedrieg het.

Die 39-jarige Pieta Lourens, ‘n sakeman van Pretoria, het op Marketplace op Facebook met die verdagtes te doen gekry.

Hy het aanvanklik die persoon wat ‘n chronograaf teen R5 500 adverteer het op Donderdag 26 Junie gekontak om dié artikel by hom te koop. Die verdagte het glo sy onderduimse transaksies onder ‘n vals Facebook-profiel genaamd André Botes bedryf.

Lourens het op WhatsApp met die verdagte begin kommunikeer om sodoende die transaksie af te handel. Hy het die geld na ‘n Bidvest-bankrekening oorbetaal, waarna die persoon glo die pakkie via Pudo vanaf Kroonstad sou stuur.

Ná allerlei slenterstories, soos dat die Pudo-sluitkas nie mooi gesluit was nie, het Lourens onraad vermoed. Later is die verdagte se foon afgeskakel.

Pieta Lourens van Pretoria kon daarin slaag om vermeende Facebook-swendelaars op Donderdag 3 Julie saam met die owerhede in Kroonstad vas te trek. Foto: Verskaf

Dit is toe dat Lourens besluit het om ondersoek in te stel. Hy het ‘n saak by die polisie in Pretoria geopen, waarna hy die vulstasie waar die Pudo-sluitkaste in Kroonstad geleë is, gekontak het.

Op die beeldmateriaal van die kringtelevisie kon ‘n skermgreep van een van die verdagtes bekom word, asook van die motor waarmee hy gery het. Lourens het op Donderdag 3 Julie na Kroonstad gereis om na die persoon te soek. Met duideliker beeldmateriaal van die kringtelevisie van die vulstasie en hulp van betroubare bronne in en om Kroonstad, het die leidrade vinnig in plek begin val.  Die verdagtes is eindelilk met die hulp van Lourens en die owerhede by Presidenthof in die middedorp van Kroonstad vasgetrek.

Die reaksiehoof van die Vrystaatse tak van National Crime Assist (NCA), Linda Louwrens, sê die drie verdagtes wat in Presidenthof woonagtig was, is deur lede van die NCA en die Kroonstad-buurtwag in ‘n sterk polisieteenwoordigheid in hegtenis geneem.

“Die polisie is besig met ‘n volskaalse ondersoek na bedrog, identiteitsbedrog en ander sake wat met die verdagtes verbind word.” 

Sy is deur Johan Louwrens, Vihan Erasmus, Spaski Geldenhuis en Ivan Douglas bygestaan.

Lourens sê hy wil die Kroonstad-gemeenskap bedank vir hul vriendelikheid en behulpsaamheid.

“Sonder hulle hulp sou ek nie daarin kon slaag om die swendelaars vas te trek nie.”

Ná ‘n ondersoek is bevind dat die twee mans en ‘n vrou wat saam by Presidenthof in hegtenis geneem is glo by verskeie ander bedrogsake oor die land heen betrokke is.  

Die verdagtes is op Vrydag 4 Julie na Pretoria geneem waar hulle binnekort in die hof sal verskyn. Hul name sal ná die eerste hofverskyning bekend gemaak word.  

You need to be Logged In to leave a comment.