Prestasie regdeur die jaar

’n Veelsydige atleet van Bethlehem het puik presteer in Atletiek Suid-Afrika (ASA) se nasionale baan- en-veldkampioenskap en het vanjaar talle medaljes verwerf in die onderskeie atletieknommers waarin hy meeding.


’n Veelsydige atleet van Bethlehem het puik presteer in Atletiek Suid-Afrika (ASA) se nasionale baan- en-veldkampioenskap en het vanjaar talle medaljes verwerf in die onderskeie atletieknommers waarin hy meeding.

Op die byeenkoms op Vrydag 6 Desember en Saterdag in die Vrystaat-atletiekstadion in Bloemfontein, waar laerskoolatlete van oor die land heen kragte gemeet het, het Johnathan Matthew (11) boonop ’n goue medalje verower.

Dié leerling aan die Laerskool Truida Kestell was een van die uitblinkers op die byeenkoms.

Hy het in die 1 200 m-nommer vir seuns o.11, waaraan 26 atlete deelgeneem het, ’n goue medalje verower in ’n tyd van 03:39,11.

Die was beslis nie Johnathan se eerste goue medaljes vir die jaar nie.

Hy het goue medaljes vir sy deelname in verskeie nommers verwerf op die Vrystaat-laerskole-kampioenskapsbyeenkoms op 2 Maart in Sasolburg; die Vrystaat-biathle-kampioenskapsbyeenkoms op 1 Mei in Bloemfontein; die Oos-Vrystaat-landloopkampioenskapsbyeenkoms op 26 Julie in Bethlehem; die Vrystaat-landloopkampioenskapsbyeenkoms op 3 Augustus in Bloemfontein; asook ASA se kampioenskapbyeenkoms wat op 22 November in Bloemfontein plaasgevind het.

Hy spog ook met twee bronsmedaljes: een wat hy op die nasionale laerskole-atletiekkampioenskapsbyeenkom op 26 Maart in Polokwane ontvang het, en een vir sy prestasie op die nasionale biathle-kampioenskapsbyeenkoms wat op 10 Augustus in Oos-London plaasgevind het.

Wat betref die ses landloopliga-byeenkomste wat tussen 3 Mei en 19 Julie vanjaar plaasgevind het, het Johnathan vyf van die wedlope gewen – hy was tweede in die sesde wedloop.

Op die Suid-Afrikaanse landloopkampioenskapsbyeenkoms wat op 7 September in Vanderbijlpark gehou is, het hy griep gehad, maar nogtans ’n negende plek uit 136 atlete behaal.

Hy het later ’n goue Vrystaat-spanmedalje verwerf.

Op sy skool se prysuitdeling op 7 November het Johnathan as gr. 5-leerling erekleure vir akademie ontvang, omdat hy die hoogste punte in sy graad verwerf het. Hy is boonop as die skool se junior-atleet vir 2024 aangewys.

Hoewel dit nou vakansie is, sal Johnathan sy oefenprogram ter voorbereiding vir die atletiekseisoen vir 2025 voortsit.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.