Die Bethlehem-Rotary-klub se nuwe president is onlangs op ‘n spoggeleentheid ingehuldig.
Leon Roos (49), eienaar van Coastal Hire in Bethlehem, is op 24 Junie by die Park-hotel in Bethlehem ingehuldig. Hy neem die leisels by Willie Hattingh oor.
Roos is met Leonie Roos getroud, en hulle het drie kinders − Liam, Joycelyn en Robyn.
Hy het hom by die Rotariërs aangesluit om positiewe verandering in sy gemeenskap mee te bring.
“Dit is vir my baie belangrik om, veral in ons plaaslike gemeenskap, ‘n verskil te maak − dit strook immers met die waardes van Rotary-internasionaal.”
Roos is opgewonde om, in samewerking met die Bethlehem-gemeenskap, in die behoeftes van mense in nood te help voorsien. Dit sal deur verskeie liefdadigheidsprojekte gesteun word.
Roos staan sedert 1 Julie amptelik aan die stuur van die Bethlehem-Rotary-klub, en sy termyn sal einde Junie 2026 verstryk.
André Pieterse, Eduard Marais en Brian Jardine is op die inhuldigingsgeleentheid vir hul toewyding tot gemeenskapswerk vereer met die Paul Harris-eerbewys.



