“Wees sterk!” “Net sissies huil!” “Vat jou pak soos ’n man!”
Dit is die soort mantras wat mans bo 40 vir jare soos ’n medalje moes dra.
Daar is tot onlangs toe nog geglo dat om werklik ’n man te wees jy stil en sterk moet wees. Enige iets anders is gesien as taboe as jy die titel “man” wou dra. Probleme, emosies en vrese moes weggesteek, ignoreer en gesluk geword.
Jy weet “Tigers don’t cry”!
Indien ’n man sou waag om emosie te wys, is hy uitgemaak as ’n sissie, mamma-se-seuntjie of toegesnou as iemand wat nie die titel man werd is nie.
Die gevolg was geslagte mans wat emosies, vrese of hul swak geestesgesondheid bloot ignoreer het. Met die hartseergevolg dat die uitlaatklep vir baie in die vorm van verslawing, geweld of emosionele afgestompheid gekom het.
Die nadraai is dikwels tragies – gebroke huwelike, die verbrokkeling van persoonlike verhoudings, geestesongesteldheid en ongelukkigheid wat oorgespoel het na alle aspekte van ’n man se lewe. Maar, daar is hoop
Tye het verander, al besef baie mans dit nog nie. ’n Man se waarde word nie meer gemeet aan hoe sterk hy kan wees of hoe goed hy daarin slaag om die beskermer van alles en almal te wees nie. ’n Man hoef nie meer ’n robot te wees met betrekking tot die emosionele sy van die lewe, ter wille daarvan om as ’n man gesien te word nie.
Die waarheid is dat dit oukei is om soms nie oukei te wees nie. Al is jy ’n man.
Om probleme sinvol te hanteer het meer waarde as om dit in jou binneste toegesluit te hou. Om te praat is meer bevrydend as om met jou demone te worstel.
Die seer wat mans binne hou en vertroetel, ontaard in ’n sweer wat oopbars en alles vergiftig. Dit maak jouself en mense om jou seer. Praat oor jou onsekerhede en vrese met jou vrou, lewensmaat, meisie, vriend, vriendin of ’n professionele persoon, indien nodig.
“Tigers don’t cry” is nonsens! Dit vat moed om demone, probleme en vrese in die oë te kyk en daardeur te werk.
Verandering is moeilik in die begin, glibberig en lelik in die middel, maar oorwinning sal op die einde seëvier.