Die waarheid hou vir altyd, die leuen net ‘n oomblik. (Spreuke 12:19)
Daar word vertel dat op ‘n keer het vier matriekseuns te laat opgestaan en so laat vir die eerste periode van die skool opgedaag.
Toe die onderwyseres hul vra: “Waarom is julle so laat?” het hierdie vier uit een mond geantwoord wat hul ooreengekom het hulle sal sê: “Jammer juffrou ons is laat, ons het ‘n pap wiel gehad.”
Na die les het sy die laatkommers laat agterbly en vir hulle gesê, “omdat julle ons gereelde klasvasvra gemis het, moet ek vir julle een gee om op te maak. Neem ‘n vel papier en antwoord net hierdie een vraag, watter wiel van julle motor vanoggend het pap geraak?”
Ek kan maar net wonder wat daar toe uitgekom het, want was die kans dat hulle al vier die regte wiel sou kies?
Het hulle verdraaiing van die waarheid hulle enigsins iets goeds in die sak gebring?
Die Engelse toneel- en romanskrywer John Lyly, meen as mens eerlikheid verloor het, jy niks meer het om te verloor nie.
Volgens ‘n ondersoek wat in die laat twintigste eeu gedoen is, is bevind dat 97% van alle mense leuens vertel.
Hoe gereeld vertel jy leuens?
Onthou ook die spreekwoord, “‘n leuen het kort beentjies, dit haal jou in, jy kan nie daarvoor weghardloop nie.”
Martin Luther het ‘n leuen met ‘n sneeubal vergelyk, hoe langer jy dit toelaat dat dit rol, hoe groter word dit.
- Pasop vir leuens, jy bereik eintlik niks daarmee nie. As mense hul vertroue in jou verloor het, het jy alles verloor. De Kock is leraar aan die NG kerk Bethlehem-Noord