Die waarheid hou vir altyd, die leuen net ’n oomblik. – Spr. 12:19
Daar word vertel dat vier matriekseuns op ’n keer te laat opgestaan het en daarom laat vir die eerste periode van die skooldag opgedaag het.
Toe die onderwyseres vra waarom hulle so laat is, antwoord die vier uit een mond dit wat hulle ooreengekom het hulle sou sê: “Jammer, Juffrou, dat ons laat is, ons het ’n pap band gehad.”
Ná die les laat sy die laatkommers agterbly en sê: “Omdat julle ons gereelde klasvasvra gemis het, moet ek julle aan een laat deelneem om daarvoor te vergoed. Neem ’n vel papier en antwoord net hierdie een vraag: Watter band van jul motor was vanoggend pap?”
Ek kan maar net wonder wat daaruit gekom het, want wat is die kans dat hulle al vier die regte wiel sou kies?
Het hul verdraaiing van die waarheid hulle enigsins iets goeds in die sak gebring?
Die Engelse toneel- en romanskrywer John Lyly meen as ’n mens eerlikheid verloor het, het jy niks meer om te verloor nie.
’n Ondersoek wat in die laat twintigste eeu gedoen is, het bevind dat 97% van alle mense leuens vertel. Hoe gereeld vertel jy leuens?
Martin Luther het ’n leuen met ’n sneeubal vergelyk – hoe langer jy toelaat dat dit rol, hoe groter word dit.
Onthou ook die spreekwoord: ’n Leuen het kort beentjies, dit haal jou in, jy kan nie daarvoor weghardloop nie.
Pasop vir leuens, jy bereik eintlik niks daarmee nie.
As mense hul vertroue in jou verloor het, het jy alles verloor.
- De Kock is leraar aan die NG kerk Bethlehem-Noord.