Pop bring vreugde

“ ’n Pop kan nie ’n gelukkige einde bied nie, maar dit bring vertroosting vir my ma in haar eensame bestaan daar in die tehuis se kamertjie,” sê Priscilla du Toit van Kroonstad oor haar ma, Bettie Steyn, wat in 2021 met demensie en Alzheimer se siekt

Die 81-jarige tannie Bettie Steyn, ’n inwoner van Huis Onze Rust in Steynrus, is in 2021 met demensie en Alzheimer se siekte gediagnoseer. Haar gemoedstoestand het baie verbeter sedert sy ’n babapop van een van die werknemers van die tehuis ontvang het om te versorg.Foto: Verskaf

Credit: SYSTEM

“ ’n Pop kan nie ’n gelukkige einde bied nie, maar dit bring vertroosting vir my ma in haar eensame bestaan daar in die tehuis se kamertjie,” sê Priscilla du Toit van Kroonstad oor haar ma, Bettie Steyn, wat in 2021 met demensie en Alzheimer se siekte gediagnoseer is.

Die 81-jarige tannie Bettie, wat oorspronklik in Krugersdorp gewoon het, is in Oktober 2021 deur ’n neuroloog in Sandton gediagnoseer, nadat haar kinders vermoed het iets is nie pluis met hul ma nie.

Du Toit sê haar ma het binne maande van ’n dinamiese vrou verander na iemand wat verstrooid voorkom.

Tannie Bettie is sedertien ’n inwoner van die Huis Onze Rust in Steynsrus, waar sy versorg word.

Dit is juis by dié tehuis dat een van die personeellede, Elsa Swanepoel, vir haar ’n pop gegee het om te versorg.

Phyllis Visser, ’n verpleegkundige by die tehuis, het vir tannie Bettie se pop speelgoed en klere gebring en selfs ’n kot gereël sodat die pop langs haar bed kan slaap.

“My ma is baie geheg aan Phyllis en loop heeldag agter haar aan; dit is, as die twee nie popspeel nie.

“Ons is so dankbaar vir die goeie en besorgde personeel van Huis Onze Rust wat so mooi na my ma omsien.”

Al kan tannie Bettie nie meer haar eie kinders onthou nie, is die pop baie bekend aan haar en gee die pop weer vir haar sin in die lewe en groot vreugde.

Die pop, sonder ’n naam en geslag, word soms deur van die verpleegsters op die rug gedra wanneer die “ou moedertjie” moeg voel.

Sy versorg, voer en trek die pop aan soos haar eie baba. Dit is ook duidelik dat die pop nie ’n plaasvervanger is nie, maar eerder ’n nuwe maat.

Volgens die medici help so ’n pop en die versorging daarvan pasiënte soos tannie Bettie om weer betekenis in die lewe te ervaar.

“Ek hoop deur die storie van my ma te vertel kan dit vir iemand wat in dieselfde situasie is, ook iets beteken.

“Ons kan sien sy is baie gelukkiger vandat sy die pop versorg.

“Dalk kan ander families dit ook probeer met hulle geliefdes wat nie meer kan onthou nie,” sê Du Toit.

Tannie Bettie het drie kinders: Du Toit (60), Sylvia Mare (48) en Hendry Bodington (58).

Haar man, Hendry Bodington, is in 1993 aan ’n hartaanval oorlede.

“My broer is in Julie vanjaar oorlede, maar my ma is nie bewus van sy afsterwe nie en ons wou haar nie onnodig ontstel nie,” sê Du Toit.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.