Onstuimigheid heers in die politieke landskap van Suid-Afrika. Dit voel inderdaad asof die 2024-verkiesing ’n verrassing of twee gaan oplewer.
’n Mens kry die indruk dat die ANC naarstiglik na strooihalms gryp ter wille van oorlewing. Vervolging vind plaas en die vrot appels begin die een ná die ander val.
Die inhegtenisneming verlede week van die waarnemende burgemeester en voormalige munisipale bestuurder weens bewerings rondom bedrog en korrupsie in Bethlehem is net nog ’n voorbeeld van opspraakwekkende verwikkelinge.
Kan daar moontlik ’n einde aan die era van korrupsie, staatskaping en bedrog gemaak word?
Op Jeugdag het woedende inwoners van Parys hul misnoeë oor swak dienslewering te kenne gegee deur ANC-T-hemde, -vlae en artikels met die ANC-logo uit protes aan die brand te steek.
Intussen is dit deur die Valke bevestig dat dié elite-teenmisdaadeenheid 60 sake van korrupsie in die Vrystaat ondersoek. Boonop is die voormalige sekretaris-generaal van die ANC Ace Magashule deur die party uitgeskop.
Suid-Afrikaners hou met belangstelling dop hoe die politieke speelveld verander en hoe ’n roekelose regering na alle waarskynlikheid sy vastrapplek kan verloor.