Bykans drie jaar nadat Oos-Vrystaatse boere die name van polisielede wat moontlik by veediefstal betrokke is aan ’n taakspan oorhandig het, is ’n polisielid van Paul Roux in hegtenis geneem.
Die waarnemende bevelvoerder van die polisie in Paul Roux, AO Moropisi Phukuntsi, en nog ’n man, Setana Tshabalala, het op 16 Januarie in die landdroshof in Paul Roux op aanklagte van veediefstal verskyn.
Die twee, wat in aanhouding gebly het, sou Woensdag (25/01) weer in die hof verskyn om aansoek te doen om borgtog.
Bewerings dat veediefstalsindikate in Oktober 2020 verantwoordelik was vir die moord op Brendin Horner het tot groot woede gelei. Dit was omdat die boere toe reeds maande tevore inligting aan die polisie verskaf het oor polisielede wat glo by veediefstal betrokke is.
Die verslag wat deur die boere opgestel is, is aan die Valke oorhandig, maar geen ondersoek is begin nie.
Ná die moord op Horner is die verslag aan die minister van polisie, Bheki Cele, oorhandig en ’n taakspan is gestig. Phukuntsi is destyds as ’n moontlike verdagte uitgewys.
Op 8 Januarie is nog ’n jong man in die Oos-Vrystaat vermoor, toe Evan Sorour op ’n plaas buite Ficksburg doodgeskiet is.
Die verdagte in die moord, Rudie Gericke (37), is ’n veespekulant en boere vra die polisie al lank om Gericke en sy vennote se moontlike betrokkenheid by veediefstal te ondersoek.
“Dat ’n taakspan deur Bheki Cele aangestel is, was net ’n manier om die boere te paai, en die taakspan se ondersoek het sonder sukses doodgeloop,” sê Jess de Klerk van die landbou-organisasie Saai.
Wat die saak teen Phukuntsi en Tshabalala betref, is daar enkele dae voor hul eerste hofverskyning op die twee toegeslaan.
“Die verdagtes is op 13 Januarie inhegtenis geneem nadat vier kalwers van ’n boer buite Paul Roux gesteel is,” sê polisiewoordvoerder AO Mmako Mophiring.
Hy sê die boer het te perd na sy vee gaan soek en die kalwers in ’n veekraal buite Paul Roux gekry. Die kalwers was gemerk met ’n brandmark wat glo op Tshabalala se naam geregistreer is en die kraal waar die vee gevind is behoort aan Phukuntsi, sê Mophiring.
Die hulp van die Fouriesburg-veediefstaleenheid is ingeroep en ’n voorlopige ondersoek dui daarop dat Tshabalala en Phukuntsi saamgewerk het om die kalwers te steel.