Vrystaat Landbou (VL) het 16 nuwe private ondersoekers om veediefstal te bekamp, opgelei.
Dié organisasie het in samewerking met die private sekuriteitsmaatskappy LGV verlede week 16 bykomende privaat ondersoekers, geregistreer by die Reguleringsowerheid vir die Private Veiligheidsbedryf (Psira) in veediefstal opgelei.
Dit bring die aantal private ondersoekers tot 21.
Peet Swanepoel, provinsiale koördineerder vir die Psira- private ondersoekers, sê die opleidng volg ná verskeie versoeke van die Vrystaatse boerderygemeenskappe waar veediefstal hoogty vier.
Die inisiatief het aanvanklik op 1 Julie 2023 in die Fezile Dabe-distrik begin toe gevalle van veediefstal in die Vrystaat onaanvaarbare vlakke bereik het.
Altesaam R1 miljoen is deur VL tot die projek bygedrae.
“ ’n Tekort aan mannekrag, voertuie en toerusting by veediefstal-eenhede van die polisie is ’n groot bron tot kommer en het dit duidelik geraak dat ’n gemeenskapsinisiatief nodig is om die misdaad te probeer bekamp,” sê Swanepoel.
Suksesse wat deur die inisiatief bereik is, is in samewerking met die polisie se landelike veiligheidskoördineerders asook veediefstal-eenhede in sekere hoë misdaad-areas waar bewys is dat die inisiatief uitgebrei moet word.
Boerderygemeenskappe van Steynsrus, Bultfontein, Jacobsdal, Marquard, Reddersburg en Bloemfontein het geskikte kanidate geïdentifiseer om as private ondersoekers opgelei te word.
Die gemeenskappe neem ook self verantwoordelikheid vir alle operasionele kostes aangaande die ondersoekers.
Verskeie befondsingsmodelle was voorgehou.
Isabel Kruger, veediefstal veiligheidsverteenwoordiger van VL sê die groot behoefte op grondvlak daarop dui dat kommersiële boere geweldig geteiken word deur kriminele groeperinge en sindikate wat vee steel.
Dit het so vererger dat heelwat boere hul boerderypraktyke moes opgee of van sekere diersoorte ontslae moes raak.
Die koördinering van die soort misdaad en sentralisering van alle inligting is van kardinale belang ten einde sukses te bereik.