Op ’n koue Saterdagmiddag sommer so vroeg in April is die ruite van die kombuisvensters toegewasem van ’n gekook en gewerskaf. Die geur van twee potte sop wat op die stoof staan en prut en dié van ’n varsgebakte brood, pas uit die oond, hang in die hele huis.
So saam met die reën aan die ruite laat die geure ’n mens hunker na vergange tye, en dit veroorsaak ’n tikkie nostalgie oor my kinderdae. My ma kon immers kook, bak en berei en haar hande het regtig vir niks verkeerd gestaan nie.
Ek, inteendeel, is die een wat met twee linkerhande gebore is.
My ouma Lenie sou gesê het dit is sommer pure luiheid, dié dat ek kwansuis nie hou van kook nie. Hoewel ek nou nie as ’n befaamde kok geag kan word nie, kon my mense darem nog elke dag eet en het hulle dit immers oorleef. Dit op sigself is vir my ’n prestasie.
Dit gaan nie soseer oor die gekook nie. Dit is die opruim ná die tyd wat die spontaniteit van kook in die kiem smoor. Dus neem ek aan my ouma was nie verkeerd nie, ek is lui vir kook.
Of het dit met tyd te make? Ons gebruik mos ’n gebrek aan tyd in enige verskoning.
Die tyd is te min; daar gaan nie tyd wees nie; ons moet gou maak, die tyd stap aan; het jy gesien waar staan die tyd; ensovoorts.
As werkende vrou is die luukse van tyd vir huishou my mos nie beskore nie, so hoe en waar moet ek die tyd kry om gebalanseerde etes te kook?
Dit moet vinnige en gesonde etes wees met min of geen moeite nie, want daar is nie tyd nie.
Die potte voedsame sop is deel van my strategie. Ek gaan van die sop vries vir die dae dat ek nie tyd het nie.
Hoewel ek weens ’n gebrek aan tyd nou nie ure lank staan en kook nie, is my mense darem nog blakend gesond en geniet hulle ten minste my sop wat met tyd aanmekaargeslaan is.