Die plaaswerker wat op 7 Maart gewond is toe daar op die bakkie geskiet is waarin sy saam met haar werkgewer gery het, is steeds in die Netcare Kroon-hospitaal in Kroonstad.
Aletta Mofokeng se toestand is stabiel nadat aan die skietwond in haar been geopereer is.
Dit het intussen aan die lig gekom dat die skote vermoedelik deur lede van die polisie afgevuur is, en ’n saak van poging tot moord word deur die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek.
Die boervrou van Vredefort en haar plaaswerkers het ’n noue ontkoming gehad toe swaargewapende mans op die voertuig losgebrand het. Martie Enslin (68) sê die voorval het gebeur toe sy op pad was om haar plaaswerkers in die dorp te gaan aflaai.
Net buite Vredefort het hulle voertuie en ’n vragmotor langs die pad opgemerk. Enslin het aanvanklik gedink dit is ’n ongelukstoneel, totdat sy mense met balaklawas, koeëlvaste baadjies en aanvalsgewere opgemerk het.
Skote is afgevuur. Mofokeng, wat voor by Enslin gesit het, is gewond. Die twee mans wat agter op die bakkie was, is ongedeerd.
“Ek het my man, Dries, en my seun, Jurie, gebel en na die polisiekantoor gery,” sê Enslin.
Daar aangekom, het die Vredefort-polisie hulle te hulp gesnel.