Perdry haar passie

’n Jong perderuiter van Bethlehem het vanjaar opgesaal en uitstekend gevaar in haar gunsteling-sportsoort, die Western- berede spele.

Die 15-jarige Mignon Thomas, ’n ruiter van Bethlehem, op haar perd Hawk Wing ten tyde van die nasionale byeenkoms vir Western- berede spele Games, wat in Parys plaasgevind het.Foto: bianca hattingh

Credit: SYSTEM

’n Jong perderuiter van Bethlehem het vanjaar opgesaal en uitstekend gevaar in haar gunsteling-sportsoort, die Western- berede spele.

Die 15-jarige Mignon Thomas, ’n gr. 9-leerling aan die Hoërskool Witteberg in Bethlehem, se naam is sinoniem met perdry.

Vanjaar het Mignon ’n vyfde jaar aan die Western- berede spele deelgeneem en sy en haar nuwe perd, Hawk Wing, het vinnig met mekaar vertroud geraak en goed in die kwalifserende rondes gevaar.

Mignon het vanjaar in die kwalifiserende rondes van junior vlak 0 na junior vlak 4 beweeg. Sy is vir die Vrystaatspan van die Suid-Afrikaanse vereniging vir Western- berede spele (SAWMGA) gekies en het die eerste plek in die Vrystaat in haar ouderdomsgroep vir junior vlak 4 behaal. Sy het op nasionale vlak ook goed presteer.

“Dit is vir seker ’n droom van my om Suid-Afrikaanse Perdry-federasie (SAEF) kleure te verwerf, asook om die elite-span te haal, om op internasionale vlak te kan deelneem.”

Mignon het drie perde. Hulle is Tequila, Marshmallow – ’n Walliese ponie wat sy nou vir die Western- berede spele oplei – en Hawk Wing, ’n Engelse renperd en haar groot kompetisieperd.

Sy ontvang afrigting en leiding van verskeie afrigters, maar oefen graag op haar eie sodat sy en haar perd hul ritme kan vind.

Mignon sê om vir enige kompetisie voor te berei verg ure se oefening, groot geduld en tyd om die perde die programme aan te leer.

Intussen het Mignon ook haar onderneming genaamd Horsin Around begin. Sy verkoop perdehalters en polo- beenversterkings wat sy self maak.

Dié jong sportvrou is ook ’n kultuuruitblinker en is vanjaar op haar skool se prysuitdeling as die junior kultuurmeisie aangewys vir prestasies in die ATKV Ensemble-spel (silwer-eerbewys), FAK Allegretto (beste vroulike byspeler en ’n nasionale benoeming daarvoor) en as die junior meisiewenner van die Rapportryersbeweging se pro-Afrikaanskompetisie.

Sy het boonop haar drama-eksamen aan die Suid-Afrikaanse Kollege vir Spraak en Drama met 96% geslaag en ’n prestige-eerbewys daarvoor ontvang.

Wanneer sy nie met skoolbedrywighede besig is nie, ry sy vir ontspanning perd en werk aan die bemarking van haar onderneming.

Mignon beoog om ná skool fisioterapie te studeer en om perde-terapie te gebruik om só haar liefde en passie vir die diere verder te kan uitleef.

You need to be Logged In to leave a comment.