Passie rig sukses

’n Danser van Kroonstad het haar slag gewys op die Suid-Afrikaanse ope lyndans­kampioenskapsbyeenkoms deur te kwalifiseer om volgende jaar aan die wêreld­kampioenskap deel te neem. Dié byeenkoms sal in Spanje plaasvind.


’n Danser van Kroonstad het haar slag gewys op die Suid-Afrikaanse ope lyndans­kampioenskapsbyeenkoms deur te kwalifiseer om volgende jaar aan die wêreld­kampioenskap deel te neem. Dié byeenkoms sal in Spanje plaasvind.

“Ek het reeds aan vier danskompetisies deelgeneem en was so geseënd om in al vier dié kompetisies die wenner in my afdeling te wees,” sê Carmen Strydom (55).

Sy het van 6 tot 8 Oktober aan die kampioenskapsbyeenkoms deelgeneem wat in die Ferdi Meyer-saal in Welkom gehou is.

Strydom sê sy het ’n passie vir dans, musiek en beweging.

Reeds op vyfjarige ouderdom het sy aan ballet en moderne dans deelgeneem, tot op 14-jarige ouderdom.

Hoewel sy daarna lank nie gedans het nie, het sy in Junie 2022 besluit om haar dansskoene af te stof en haar by die Dancing Stars-dansateljee in Kroonstad aangesluit.

Johan Labuschagne, wat al tien keer as wêreldkampioen in lyndans gekroon is, is haar instrukteur.

“Ek neem deel aan lyndans, wat insluit hip hop; polka; latynse dansstyle soos die wals en cha-cha; East Coast swing; country; two-step; nightclub; asook novelty, wat verskeie genres wat in musiekblyspele gebruik word, behels.”

Gewoonlik oefen sy twee keer per week by die ateljee, maar ter voorbereiding vir danskompetisies oefen sy meer gereeld – en natuurlik is die uitrustings, waarvan sy ses benodig, hoog op die voorkeurlys.

Sy het in die afgelope jaar en ’n half aan kompetisies in Balito, Welkom en Kroonstad deelgeneem, waar sy goed gevaar het.

Strydom werk as musikant by die Suid-Afrikaanse Weermag-orkes van Kroonstad, waar sy die fluit en dwarsfluit bespeel.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.