Passie hou wiele geolie

’n Broer en suster van Bethlehem wat passievol oor bergfietsry is, reken die gepaardgaande adrenalien en uitdagings is wat hulle die meeste van dié sportsoort geniet.


’n Broer en suster van Bethlehem wat passievol oor bergfietsry is, reken die gepaardgaande adrenalien en uitdagings is wat hulle die meeste van dié sportsoort geniet.

Franco (16) en Inge van Heerden (14), die kinders van Wilco en Monia van Heerden en leerlinge aan die Hoërskool Witteberg, het in 2019 aan bergfietsry begin deelneem.

Hulle deel hul passie vir die sportsoort met albei hul ouers.

Die sibbe behoort aan die Maluti-fietsryklub in Bethlehem, hoewel hul onderskeie afrigters elders in Suid-Afrika woon.

“Tegnologie maak dit moontlik om afrigting en leiding van professionele afrigters elders te ontvang. Ek word deur Nicol Carstens van Insect Science in Stellenbosch afgerig, en my suster se afrigter is David Low van Tipping Point in Howick,” sê Franco.

“Ons volg ons uitgewerkte oefenprogramme, en ons vordering word gekontroleer.”

Volgens dié twee is bergfietsry nie net ’n lekker sportsoort om aan deel te neem nie; dit toets ook hul vermoëns en leer hulle om teleurstellings te verwerk.

Inge het einde September aan haar mees onlangse kompetisie, die nasionale interskole-kampioenskapsbyeenkoms in Brits, deelgeneem.

Hier het die beste bergfietsryers van elke provinsie op nasionale vlak kragte gemeet.

Inge was vierde in haar ouderdomsgroep in die skole-afdeling en derde in haar ouderdomsgroep wat die provinsiale afdeling betref.

Franco was egter siek en kon nie aan dié kampioenskap deelneem nie.

“Ek is nou weer gesond en berei my vir die nuwe seisoen voor,” sê hy.

Die nuwe bergfietsryseisoen begin volgende jaar op Saterdag 15 Februarie.

Benewens deelname aan dié sportsoort, speel Inge hokkie. Franco fokus egter net op fietsry.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.