Dit is kommerwekkend hoe misdaad – veral gewapende roof, skietvoorvalle en geweld – in die Vrystaat toeneem.
Mense word helder oordag beroof. Rooftogte is aan die orde van die dag. ’n Geskietery kom links en regs voor, en motors word gesteel en gekaap.
Dan praat ons nie eens van die grumoorde en verkragtings wat koerantopskrifte oorheers nie.
Genadelose boewe sien kleiner dorpe en ondernemings al hoe meer as ’n teiken, en blyk geen bang haar op hul kop te hê nie.
Onwettige wapens is maklik bekombaar, en owerhede hou hulle soms blind en doof vir die werklikheid.
Misdaad kom so gereeld voor dat mense daarteen afgestomp raak.
Dit is asof dit deesdae as gewoon aanvaar word. So normaal soos die koop van kruideniersware.
Dus raak dit al hoe meer noodsaaklik om waaksaam te wees.
Paraat.
As burgers van ’n land waar misdaad al jare lank bly toeneem, is ons reeds versigtig – tog voel dit asof sake al hoe meer hand uitruk.
Skerp jou sekuriteit op. Tref voorsorgmaatreëls.
Ons leef in uitdagende tye.