Gedigte uit ‘n jong Bethlehemiet se pen, het haar as die algehele wenner in die jeugafdeling van die bekende Ink Skryf in Afrikaans-kompetisie besorg.
Om die regte woorde op ‘n bladsy neer te pen verg ‘n spesiale talent en hiermee is Quiriané Charilaou (17), ‘n gr. 11-leerling aan die Hoërskool Witteberg in Bethlehem, geseën.
Sy het behoorlik skoon skip in die Ink Skryf in Afrikaans-kompetisie asook geskiedenis gemaak toe vyf van haar gedigte ‘n eerste plek behaal het.
Op Saterdag (12/11) is Quiriané as die wenner vir vyf van haar gedigte aangewys en haar gedigte is deur bekendes soos Karen Zoid en die skrywer Jackie Nagtegaal, wat die kompetisie beoordeel het, gelees.
“Vyf gedigte in ‘n gesamentlike eerste plek, deur een digter was nog nooit voorheen by hierdie kompetisie te sien nie, maar Quiriané het dit reggekry om hierdie titel te beklee,” sê Gustav Dreyer die bemarker van Witteberg.
Die Ink Skryf in Afrikaans-kompetisie se doel is om gehalte-poësie en kortverhaalkuns in Afrikaans te bevorder. ‘n Platform vir opkomende skrywers waar wonderlike blootstelling aan die genre gebied word.