Werker oes rekord-pampoene uit komposhoop

’n Wonderwerk uit die komposhoop – ’n werker verras almal met ’n rekord-oes pampoene, wat spontaan gegroei het.

‘n Rekord-oes pampoene is geoes nadat pampoensade deur ‘n werker op ‘n komposhoop op een van die Eden-kleinhoewes buite Bethlehem, geplant is. Hier is die trotse 39-jarige Mahase Mahloane, saam met sy pampoen-oes.
Credit: Verskaf

Wat begin het as ’n waagstuk, het vir Mahase Mahloane ‘n werker van die Eden-kleinhoewes buite Bethlehem ’n rekord-oes pampoene uit ’n eenvoudige komposhoop laat oes.

Mahloane (39), oorspronklik van Ficksburg en al vier jaar in diens by die kleinhoewes, het besluit om pampoensade in die voedingryke kompos te plant – bloot uit nuuskierigheid. Tot sy en almal se verbasing het die sade ontkiem en ’n verskeidenheid reuse-pampoene begin vorm.

“Ek het gehoor pampoene hou van goed bemeste grond, en ek het net gebruik wat ek gehad het. Die resultate het my verras,” vertel Mahloane. “Gebruik wat jy het – jy weet nooit wat kan groei nie.”

Die pampoene, wat in verskillende groottes en variëteite uit die kompos begin groei het, het vinnig opslae gemaak. Meer as 70 verskillende soorte is met die eerste aanplanting geoes. Nuuskierige bure en inwoners van die omgewing het gekom om dié indrukwekkende oes met hul eie oë te aanskou.

Eden-kleinhoewes is hoofsaaklik bekend vir sy perde, maar Mahloane se suksesvolle eksperiment het nuwe lewe aan die kleinhoewes gebring – en ’n gesprek aan die gang gesit oor die potensiaal van volhoubare boerderypraktyke.

Mahloane, wat onder die toesig van Linda Muller werk en verantwoordelik is vir die versorging van die perde, berei nou sy grond voor vir die volgende seisoen. Hierdie keer beplan hy om ook tamaties te plant – weer eens met wat tot sy beskikking is.

You need to be Logged In to leave a comment.