Die Hoërskool Witteberg in Bethlehem het sy sportorganiseerder einde September gegroet. DP Coetzee verhuis na die Wes-Kaap, waar hy as atletiekdirekteur aan die Hoërskool Bellville sal dien. Hy het die pos van sportorganiseerder by Witteberg sedert Augustus 2021 beklee en was bekend vir die unieke wyse waarop hy leiding geneem het om sport by dié skool met professionaliteit te bestuur. Coetzee was die skool se atletiekafrigter en het ook die tweede rugbyspan, wat vanjaar gekroon is as wenner van die Wesgrow-sportreeks vir skole in die sentrale streek, afgerig. Hy het ook aan die stuur van Witteberg se kondisioneringsentrum gestaan. “Ons wens Coetzee sterkte toe met die nuwe geleentheid, en mag die skuif vir hom en sy vrou lewensverrykend wees en gevul met God se goedheid en guns. Mag julle met gemak oor die hekkies spring wat die lewe vir julle inhou,” sê Hannes Oosthuizen, skoolhoof.Foto: Verskaf