Die jaar gaan nou teen ’n spoed na sy einde toe en ’n mens is eintlik verstom dat daar net sowat twee weke van die bedrywige 2022 oor is.
Die feestyd is hier, en Kersfees word oor 11 dae gevier. Alles so onwerklik.
Dit was ’n jaar van baie opwinding, eerstes en natuurlik ’n paar laagtepunte.
’n Jaar waarin verskeie dinge soms blindelings, met te veel selfvertroue, aangepak is.
Ek vermoed dat hierdie soort selfvertroue weens die onvoorspelbare 2020 en 2021 by die mensdom gekweek is. Daar is so ’n stemmetjie wat sê: “Onthou jy die uitdagings tydens die Covid-19-pandemie? Gryp dan nou liewer die lewe en elke geleentheid met albei hande aan.”
Die Covid-19-oorlog het ons egter wel sterker en meer gefokus gemaak. Ons is meer paraat en gereed vir wat die lewe ook al na ons slinger.
Daarvan is die uitdagings met elektrisiteits- en waterverskaffing wat ons daagliks ervaar ’n voorbeeld, en ons maak altyd planne.
Dit is VrystaatKroon se hoop dat elke getroue leser en adverteerder 2023 met oop oë en vindingrykheid tegemoet sal gaan – en die vrugte daarvan sal pluk.
Mag dit vir elkeen ’n geseënde en besonderse nuwe jaar wees.