Pad hou gevaar in

Paaie in die Vrystaat is in ’n haglike toestand, soos die R708-pad tussen Clocolan en Marquard wat op dié stadium lewensbedreigend vir padgebruikers is.

In die R708-pad tussen Clocolan en Marquard is 1 034 slaggate getel.Foto: Verskaf

Credit: SYSTEM

Paaie in die Vrystaat is in ’n haglike toestand, soos die R708-pad tussen Clocolan en Marquard wat op dié stadium lewensbedreigend vir padgebruikers is.

Op dié pad is 1 034 slaggate getel. Dít terwyl die pad in 2014 en 2015 herbou is. Dele van die roete is skaars 3 m wyd geteer, en gemiddeld 35 slaggate is per kilometer getel.

Volgens Vrystaat Landbou (VL) se kommersiële bestuurder, dr. Jack Armour, het boere van die omgewing uit radeloosheid besluit om elke slaggat op die 30 km pad te tel.

Volgens Armour is die R708 ’n sprekende voorbeeld van die hele Vrystaat se provinsiale paaie en infrastruktuur.

“Die provinsie stuur op ’n ramp af wat die landelike gemeenskap van toeganklike padvervoer gaan afsny – wat voedselsekerheid beslis gaan beïnvloed.”

Vroeër het die provinsiale LUR vir paaie, William Bulwane, ’n projek aangekondig om die groeiende krisis rondom die Vrystaatse padinfrastruktuur aan te spreek.

Die VL het dit verwelkom, maar het kommer uitgespreek dat die provinsie se vereistes vir swart ekonomiese bemagtiging bloot na korrupsie gaan lei en dat onbekwame kontrakteurs aangestel sal word.

“Die feit dat ’n herboude pad soos die R708 in minder as tien jaar vernietig is, bewys dit.”

By navraag rakende die R708 se herstel deur die VL aan die betrokke nasionale departement, was die terugvoering dat die paaie deur die span gemoeid met die distrik se onderhouddienste aangespreek sou word.

You need to be Logged In to leave a comment.