Die liggame van ‘n pa en sy seun is uit die Corneliusrivier naby Ezenzeleni buite Warden gehaal, nadat hulle verdrink het.
Volgens die polisie het Bafana Radebe (25) ‘n argument met die ma van sy driejarige seun, Motivering Radebe gehad wat tot die grusame dood gelei het.
Bafana Radebe het op Saterdag (02/07) ‘n argument met Sesi Radebe (20) gehad. Hy het haar glo gewurg en aangerand, maar sy kon daarin slaag om los te kom, en het met haar seun weggehardloop.
Die ma en kind was op pad na die plaaslike polisiekantoor om die aanranding aan te meld. Bafana kon egter daarin slaag om hulle in te haal en daar het weer ‘n struweling by die Corneliusrivierbrug ontstaan. Bafana het vir Sesi gewurg en haar in die rivier probeer gooi. Sy het losgekom en weggehardloop. Sy het hul seun by Bafana gelos.
‘n Ooggetuie het gesien hoe Bafana sy seun in die rivier gooi en agterna spring en albei verdrink het. Die saak is by die owerhede aangemeld en die polisie se duikspaan is Sondagoggend (03/07) ontbied om die liggame uit die rivier te verwyder. Familie het die twee liggame as die van Bafana en sy seun geïdentifiseer.
“Dit is ‘n hartseer voorval vir al die families betrokke. Tog wil ons vroue aanmoedig om enige vorm van mishandeling dadelik by die owerhede aan te meld,” het die Vrystaatse provinsiale kommissaris, lt.genl. Baile Motswenyane, gesê.